Bokke kry makliker loting vir Rugbykampioenskap

rugbykampioenskap logoTwee wedstryde tuis en net een, teen Australië weg. Dít is die goeie nuus wat die Springbokke Maandag ontvang het oor die loting vir 2015 se Rugbykampioenskap.

Die loting vir reeks, wat aanstaande jaar oor net een ronde beslis word, maak voorsiening vir `n Springbok-tuiswedstryd teen Nieu-Seeland.

Om tuis teen die All Blacks te speel is uiteraard `n yslike voordeel. Benewens dat dit die Bokke se kanse verbeter om die eerste keer die Rugbykampioenskap te wen, is dit ook `n geleentheid om `n verdere sielkundige oorwinning oor die All Blacks te behaal enkele weke voor die Wêreldbekertoernooi.

Die Springbokke spring op 18 Julie weg met hulle enigste wegwedstryd, teen die  Wallabies in Brisbane. `n Week later moet die Bokke, terug in Suid-Afrika, teen die All Blacks uitdraf.

Maar dit is veel makliker om van Australië af te reis en die volgende week te speel as van Nieu-Seeland af. Die All Blacks het dit nie veel makliker nie, want hulle moet in dieselfde week van Argentinië af na Suid-Afrika reis om teen die Bokke te speel.

Dit is nog nie bekend waar die twee voorste lande in die wêreld mekaar die stryd sal aansê nie.

Die Rugbykampioenskap begin twee weke ná die Supereindstryd op 4 Julie. Daar sal aanstaande jaar geen inkomende toere vir die Suidelike Halfrond se spanne wees nie.

Benewens die Rugbykampioenskap se drie wedstryde, sal die vier deelnemende lande ook `n ekstra wedstryd (wat nie punte vir die kompetisie tel nie) speel ter voorbereiding vir die Wêreldbeker. Die Bokke toer na Argentinië, waar hulle `n week ná die toets in die Rugbykampioenskap teen Argentinië weer teen die Poemas te staan sal kom.

Die bepalings vir die 2015 Rugbykampioenskap en die ‘vriendskaplike’ wedstryde daarna is:

Eerste ronde:
Vrydag 17 Julie: Nieu-Seeland vs Argentinië – Christchurch
Saterdag 18 Julie: Australië vs Suid-Afrika – Brisbane
Tweede ronde:
Saterdag 25 Julie: Suid-Afrika vs Nieu-Seeland – Nog nie bepaal
Saterdag 25 Julie: Argentinië vs Australië – Nog nie bepaal
Derde ronde:

Saterdag 8 Aug: Australië vs Nieu-Seeland –Sydney
Saterdag 8 Aug: Suid-Afrika vs Argentinië – Nog nie bepaal

Ekstra ronde (nie vir kompetisiepunte nie):
Saterdag 15 Aug: Nieu-Seeland vs  Australië – Eden Park, Auckland
Saterdag 15 Aug: Argentinië vs Suid-Afrika – Nog nie bepaal

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.