Bokke mik na 2 in ’n ry teen All Blacks

Die Springbok-span wat vanmiddag teen die All Blacks op Ellispark speel. Foto: GB Jordaan.

Teen hierdie tyd weet ons al dat ’n mens nie iets soos ’n swak All Blacks-span kry nie. Ongeag of hulle verlede naweek met 16 punte teen die Springbokke vasgeval het of selfs drie toetse op ’n streep verloor het.

“Nieu-Seeland is ’n baie goeie span en hulle kan sake met een stewige vertoning weer omdraai,” het Siya Kolisi gesê.

Maar as alles volgens plan verloop kan die Springbokke vanmiddag op Ellispark vir die tweede agtereenvolgende toets as oorwinnaars van die veld teen die All Blacks stap. ’n Seldsame en unieke prestasie.

“Dit sal ’n wonderlike Springbok-prestasie wees, maar ons konsentreer meer daarop om hard op die veld te werk en goed te speel. Nie een van die afrigters of spelers was al in hierdie situasie waar ons moontlik vir Nieu-Seeland twee keer in ’n ry kan klop nie en ons sal ongetwyfeld ons heel beste gee,” het die Suid-Afrikaanse rugbykaptein gesê.

Siya Kolisi. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke het die spel in die eerste toets op die Mbombela-stadion oorheers – van die skrumsituasies tot die verdedigingswerk en die skoppe.

“Ons het verlede naweek se wedstryd goed ontleed en dit help nie om die heeltyd teen die uitslag vas te kyk nie. Ons kan beslis nog verbeter.”

Die wedstryd begin vanmiddag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Jesse Kriel (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Joseph Dweba (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Jasper Wiese, Kwagga Smith, Herschel Jantjies en Willie le Roux.

All Blacks: Jordie Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), David Havili (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Shannon Frizell (flank), Scott Barrett (slot), Sam Whitelock (slot), Tyrel Lomax (stut), Samisoni Taukei’aho (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Codie Taylor, George Bower, Fletcher Newell, Tupou Vaa’i, Akira Ioane, Finlay Christie, Beauden Barrett en Quinn Tupaea.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.