Bokke moet die regte pad vorentoe wys

Die Engelse sê mos die bewyse lê in die poeding, of so iets. En wanneer die Bokke die Franse Saterdag op Kingspark in die tweede van drie toetse pak, sal daar nog groter duidelikheid oor die Bokke se vordering sedert verlede jaar se geploeter wees

Kom ons vergelyk dit met 2016 se brousel, toe die Bokke die reeks met 2-1 teen die Iere deurgeskraap het.

Spankeuses:  Kom ons wees eerlik, daar was nie verlede seisoen op peil gekies nie. In die eerste toets teen Ierland was daar net twee Lions, Lionel Mapoe en Faf de Klerk, in die beginspan en net twee ander Lions (Warren Whiteley en Julian Redelinghuys) op die bank. Die telling: Ierland 26, Bokke 20.

In die tweede toets was daar  drie Lions in die opdrafspan (Mapoe, De Klerk en Elton Jantjies) en nog vier (Ruan Combrinck, Redelinghuys, Whiteley en Franco Mostert) op die bank. Die telling: Bokke 32, Ierland 26.

In die derde toets was daar vyf Lions in die beginspan (Combrinck, Mapoe, Jantjies, De Klerk en Whiteley) met nog drie (Redelinghuys, Jaco Kriel en Mostert op die bank).  Beteken dit dat dié Lions-toevoegings (terwyl daar nie Superrugby gespeel is nie) binne ʼn maand verbeter het? Die telling: Bokke 19, Ierland 13.

Nou is daar agt Lions in die beginspan (Andries Coetzee, Mapoe, Courtnall  Skosan, Jantjies, Ross Cronje, Malcolm Marx, Mostert en Whiteley). Dit vertel mos die verhaal van rondvallery en onbestendigheid in 2016.

Kapteinskap: Was Adriaan Strauss die regte man in die saal, veral nadat hy reeds voor die laaste vier wedstryde in die Rugbykampioenskap en feitlik drie maande voor die jaareindtoer aangekondig het dat hy nie meer vir internasionale rugby beskikbaar is nie?

Kombinasies: Die agterste driehoek het onder meer uit Willie le Roux, Lwazi Mvovo, JP Pietersen en Combrinck bestaan. Lionel Mapoe en Damian de Allende was onder meer sentermaats. (En Francois Venter, Rohan Janse van Rensburg, Juan de Jongh en ook Jesse Kriel het ook in die twaal toetse op senter kans gekry.)

Daar is rondgeval tussen die losvoorspelers. En die stutte …

Het ons werklik verwag dat dié kombinasies mekaar sou aanvul?

Oorsese Bokke: Daar was geen riglyn of beleid nie en die afrigter, Allister Coetzee, het rondgeval deur onder meer vir Le Roux en Pietersen (hulle was albei op pad oorsee), Morné Steyn, Steven Kitshoff, Francois Louw en Duane Vermeulen in te span. Vanjaar is Kitshoff (hy keer permanent terug Kaap toe) weer daar asook Francois Hougaard en Frans Steyn.

Spelpatroon: Dit was ʼn kombinasie van voorspeler-oorheersing en voortvarendheid agterlangs. Maar die spelers kon dit nooit onder die knie kry nie, want elke Superspan het op sy eie aangekarring.

Afrigtingspan: Brendan Venter en Franco Smith voeg nou waarde toe nadat Mzwandile Stick en Chean Roux (hy was net tydelik daar) die trekpas gekry het.

In ʼn neutedop: die Bokke sal nie elke toets wen nie, maar wat wel belangrik is, is dat daar groei moet wees, dat die spelers se vaardighede verder moet ontwikkel, dat hulle mekaar moet aanvul, dat daar meer drieë gedruk word en dat die basiese beginsels nie agterweë gelaat word nie.

Die saadjie is in die eerste toets teen die Franse geplant toe die Bokke met 37-14 gewen het; nou moet dit ontkiem.

Spanne – 

Suid-Afrika:15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Lionel Mapoe, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronje, 8 Warren Whiteley, 7 Teboho Mohoje, 6 Siyamthanda Kolisi, 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Mbongeni Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Coenraad Oosthuizen, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Jean-Luc du Preez, 21 Francois Hougaard, 22 Francois Steyn, 23 Dillyn Leyds.

Frankryk: 15 Scott Spedding, 14 Yoann Huget, 13 Damian Penaud, 12 Gaël Fickou, 11 Virimi Vakatawa, 10 François Trinh-Duc, 9 Baptiste Serin, 8 Louis Picamoles, 7 Kévin Gourdon, 6 Yacouba Camara, 5 Romain Taofifeuna, 4 Yoann Maestri, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kapt.), 1 Jefferson Poirot. Bank: 16 Clément Maynadier, 17 Eddy Ben Arous, 18 Uini Atonio, 19 Julien le Devedec, 20 Bernard le Roux, 21 Antoine Dupont, 22 Jean-Marc Doussain, 23 Nans Ducuing.

Skeidsregter:  Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland)
Afskop: 17:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.