Bokke moet lig loop vir Perth se slaggat

Die Springbokke het dit oor die jare heen geleer: Dis nie maklik om ʼn rugbytoets in Perth te wen nie.

Sedert die Bokke die eerste keer in 1998 in die hoofstad van Wes-Australië ʼn toets gespeel het, kon hulle nog net drie van die agt toetse daar wen, met een toets in 2001 wat gelykop was.

Daar was goeie Bokspanne wat al in Perth verloor het, afgerig deur Harry Viljoen, Peter de Villiers en Heyneke Meyer. Daar was oorwinnings vir Bokspanne wat deur Nick Mallett, Jake White en De Villiers gebrei is en eintlik kan ʼn mens nie veel uit die statistiek van die Perth-toetse leer nie.

Vanjaar is Australiese rugby op sy knieë: Sy Superrugbyspanne het pateties in die Superreeks gevaar en die Brumbies het net vanweë die onsinnige puntestelsel tot die uitspeelrondes deurgedring, en toe verloor.

Oor die Waratahs, Reds, Rebels en Force word daar gebloos, en dit was geen verrassing dat een van die Aussie-spanne ook onder die Superrugby-valbyl beland het nie. Dis moes eintlik twee gewees het, maar die Aussies het probeer vasskop, gestry en baklei, tot Dinsdag in die hooggeregshof in Sydney.

Die Australiese Rugbyunie (AR) se besluit om die Force se kop te laat rol en die hofuitspraak kon nie vir die Wallabies op ʼn meer ongeleë tyd gekom het nie, net vyf dae voor Saterdag se toets in Perth.

Perth is ʼn stad met sy duisende oud-Suid-Afrikaners (volgens ʼn sensus in 2012 het 30 291 oud-Suid-Afrikaners die stad hul nuwe tuiste gemaak). Jy hoor kort-kort op straat Afrikaans, jy sien hordes winkels soos die Komati-slaghuis met Suid-Afrikaanse bande, jy voel byna tuis.

Jare gelede met my eerste besoek aan Perth wou ek ʼn artikel oor die Krugers doen wat nou in Perth woon. Ek het 41 Krugers in die telefoongids opgespoor, maar nadat ek die sesde een gebel het en geen familiebande kon naspoor nie, het ek dit maar daar gelaat. Só ook die horde Botha’s, Fourie’s en Venters wat in Perth woon.

Ja, daar’s baie Suid-Afrikaners, wat nog meer druk op die Wallabies plaas. Maar dis juis wanneer ʼn span op sy gevaarlikste is, juis wanneer daar die diepste gedelf word, en wanneer jy uit die laaste loopgraaf veg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christo Crous ·

Die Bokke het weliswaar hul laaste 5 toetse gewen, en alhoewel ek 100% agter hulle staan, kan ek nie sien hoe hulle Saterdag gaan wen nie.
Die Wallabies se agterlyn gaan ons dronk hardloop en hul voorspelers sal meer as genoeg aggressie toon.
‘n Tuisoorwinning teen die Wallabies sal dalk net-net gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.