Bokke moet Wallabies by die kruispad uit die pad stamp

Wen is die belangrikste woord in die woordeskat van enige rugbyafrigter, maar bestendigheid en die vordering wat gemaak word, is ewe belangrik en boustene vir oorwinning.

Sedert Rassie Erasmus die leisels by Allister Coetzee geneem het, word daar proefnemings gedoen, kombinasies uitgetoets en diepte geskep vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Hoe vorder Erasmus?

Kom ons skuif die toetswedstryd op 1 Junie teen Wallis vir ʼn wyle in die agtergrond, want dit was niks minder nie as ʼn klad op toetsrugby se naam. Dit het buite die toetsvenster geval, dis in Washington van alle plekke gespeel en die Springbokke se raap-en-skraap-span was onvoorbereid. Maar dit het darem die beursie gevul vir die res van die Wêreldbeker-aanslag.

Vier uit 10.

As Erasmus ʼn rapport moes kry vir die reeks van drie toetse teen Engeland, sou hy ʼn goeie slaagsyfer gekry het. Agt drieë, verskeie nuwelinge wat na vore getree het en ʼn reeksoorwinning van 2-1.

Sewe of dalk 6,5 uit 10.

Die Springbokke het voortgebou in die eerste toetswedstryd van die Rugbykampioenskap teen Argentinië, maar onbestendigheid het deurgesyfer na die tweede kragmeting in Mendoza en die stryd teen Wallabies in Brisbane.

4,5 uit 10, niks meer nie.

Toe volg die dramatiese stryd in Wellington, toe die Springbokke die All Blacks teen alle verwagtinge in met 36-34 geklop het. Vyf drieë, met broodkrummels as besit en heldhaftige verdediging.

Sewe uit 10.

Daar bly nog net Saterdag se stryd teen Wallabies in Port Elizabeth en die opvolgkragmeting met die All Blacks op Loftus Versfeld oor voordat die Bokke aan die einde van die jaar oorsee gaan en teen Engeland, Frankryk, Skotland en Wallis kragte meet.

Dan behoort Erasmus reeds ʼn baie goeie aanduiding te hê hoe sy opdrafspan daar sou uitsien.

Maar eers moet die Springbokke die Wallabies verslaan, en goed ook, om die vertroue te herstel en om nie weer terug te val in die groef van middelmatigheid nie.

Die Bokke speel tuis, het ʼn baie goeie vertoningslys in die Baai en die span (op papier) behoort die meerdere van die Wallabies te wees, wat ook op ʼn oorlewingstryd is.

Die pak (op papier) is beter, die agterspelers vinniger en hopelik vaardiger en die plaasvervangers behoort ʼn impak te maak.

Maar hoe lui daardie televisieadvertensie nou weer?

Wat kan verkeerd loop?

Die spanne ‒
Suid-Afrika
15. Willie le Roux, 14. Cheslin Kolbe, 13. Jesse Kriel, 12. André Esterhuizen, 11. Aphiwe Dyantyi, 10. Handré Pollard, 9. Faf de Klerk, 8. Sikhumbuzo Notshe, 7. Pieter-Steph du Toit, 6. Siya Kolisi (kaptein), 5. Franco Mostert, 4. Eben Etzebeth, 3. Frans Malherbe, 2. Malcolm Marx, 1. Beast Mtawarira. Plaasvervangers: 16. Bongi Mbonambi, 17. Steven Kitshoff, 18. Wilco Louw, 19. RG Snyman, 20. Marco van Staden, 21. Embrose Papier, 22. Elton Jantjies, 23. Damian Willemse.

Australië
15. Dane Haylett-Petty, 14. Israel Folau, 13. Reece Hodge, 12. Matt Toomua, 11. Marika Koroibete, 10. Kurtley Beale, 9. Will Genia, 8. David Pocock, 7. Michael Hooper (kaptein), 6. Ned Hanigan, 5. Izack Rodda, 4. Adam Coleman, 3. Taniela Tupou, 2. Tatafu Polota-Nau, 1. Scott Sio. Plaasvervangers: 16. Folau Fainga’a, 17. Sekope Kepu, 18. Allan Alaalatoa, 19. Rory Arnold, 20. Rob Simmons, 21. Nick Phipps, 22. Bernard Foley, 23. Jack Maddocks.

Afskop: 17:05.
Skeidsregter:
Jérôme Garcès (Frankryk).
Assistent-skeidsregters: Wayne Barnes en Matthew Carley (albei Engeland).
TV-skeidsregter: Graham Hughes (Engeland).
Verwagte weer: Matig (19 grade Celcius) met ʼn ligte wind.
Voorspelling: Bokke met 12 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LHS ·

Indien die bokke wen sal daar net een rede voor wees by name Soois de Bruyn. Daardie man moet n geniale rugby brein hê om telkens uit Erasmus se spankeuses iets te probeer maak. Erasmus was n goeie speler op sy tyd, maar afrigter, nie eers amper nie.

Pieter ·

Ai, wat gaan nog in die Bokspan opgeneem word, sonder om beproefde spelers kanse te gun? Willie le Roux en Notshe ipv Willemse en Van Staden. Van Staden sal ‘n beter no. 8 as Whiteley ook wees!

Swartwolf ·

As enige iets uit die pad gestamp gaan word is dit die bokke se klein agterspelers. Twee weke terug het Ioane een afgestamp dat sy tande nou nog klap. Israel Folau en kie gaan sekere bok agterspelers vanmiddag ontbloot vir wat hul is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.