Bokke moet wraak los en klinies speel

Dis voorlangs waar alles gaan begin en eindig!  Foto: sarugbymag

Dis voorlangs waar alles gaan begin en eindig!
Foto: sarugbymag

Die Springbokke sal enige vorm van wraak en Romain Poite se blapse uit hul psiges moet verban indien hulle die kliniese vertoning wil lewer wat aan hulle die Rugbykampioenskapkroon sal besorg. Die Eden Park-nederlaag sal nog vars in die geheue wees, maar die beste soort wraak sal ’n bonuspuntsege op die Suid-Afrikaanse rugby-heiligdom, Ellispark, wees. Hiervoor sal enige vuil of ongeoorloofde spel – of selfs net ‘n moontlikheid daarvan – vermy moet word aangesien die Bokke nie weer kan bekostig om vir groot dele van die wedstryd sonder ’n voltal teen die All Blacks te speel en verwag om te wen nie – laat staan nog met ’n bonuspunt.  Die Bokhaker Adriaan Strauss en voorspelerafrigter, Johann van Graan, het reeds vandeesweek aangedui dat die manne in Groen-en-Goud hul dissipline sal moet opskerp vir hierdie titaniese stryd.

Die Bokke, en nie die All Blacks nie, het immers die grootste berg om te klim op Ellispark. Om met 14 spelers aan te val teen ‘n voltallige All Black-span is reeds ’n reuse-uitdaging, maar om dan ook teen hulle te verdedig en hulle tot slegs drie of minder drieë te beperk, gaan ’n byna onbegonne taak word. Die Nieu-Seelanders het byvoorbeeld slegs ses duikslae in die hele wedstryd teen die Poemas gemis, waarvan slegs twee in die eerste helfte was.

Flip van der Merwe kan homself gelukkig ag dat hy nie verlede naweek ’n rooikaart vir sy elmbooghou in die gesig van die Wallabyvleuel Joe Tomane ontvang het nie. Hy is wel vir ’n week geskors en Juandré Kruger sal sy waarskynlike plaasvervanger wees, terwyl Franco van der Merwe as slot op die plaasvervangerbank ingesluit is danksy sy indrukwekkende Curriebekerspel. Kruger se  lynstaantalente sal met groot vrug daar ingespan word aangesien die Nieu-Seelanders slegs een van hul 13 lynstaaningooie aan die Poemas afgestaan en drie by hulle afgeneem het.

Die waarskynlikheid raak boonop al hoe groter dat Richie McCaw Saterdag gaan opdraf en die Bokke sal sy skelmstreke by die afbreekpunte slegs stuit indien al die voorspelers op alle silinders vuur. Die Bokke se kopseer raak egter erger: Die twee All Blackslotte, Brodie Retallick en Sam Whitelock, was die fluksste voorspelers wat aankoms by die afbreekpunte betref. Retallick het 29 keer eerste by die afbreekpunt aangekom, terwyl Whitelock dit 24 keer gedoen het. Sam Cane, McCaw se waardige plaasvervanger, was slegs derde met 22 keer. Verwag dus ’n fel stryd daar.

In die middelveld ontvou die waarskynlike kombinasie van Jean de Villiers en die Bulgroentjie Jan Serfontein aangesien dit blyk dat JJ Engelbrecht nie betyds gaan herstel van ’n besering nie. Serfontein se jeugdige kreatiwiteit sal goed te pas kom teen Ma’a Nonu en Conrad Smith, terwyl De Villiers se organisering van die verdediging van kritieke belang sal wees.

Die Bokke het ’n klompie bondgenote in hul stryd teen hul aartsvyand. Die Nieu-Seelanders sal ongetwyfeld vlugflou wees ná hul reis terug van Argentinië. Tweedens moet hulle die Hoëveldse lugdruk, wat wel nie die Nieu-Seelanders se spel altyd beïnvloed nie, inspan deur die spel vinniger te maak en hulle te laat hardloop met taktiese skoppe. Laastens pak hulle mekaar op Ellispark. Dit kan dalk bygelowig wees, maar die All Blacks het laas in 1997 daar gewen en in slegs een uit vier wedstryde sedert die 1995 Rugbywêreldbeker.

Die span vir Saterdag is soos volg:

15 Zane Kirchner 14 Willie le Roux 13 JJ Engelbrecht / Jan Serfontein 12 Jean de Villiers (kaptein)
11 Bryan Habana 10 Morné Steyn 9 Fourie du Preez 8 Duane Vermeulen 7 Willem Alberts 6 Francois Louw
5 Juandré Kruger 4 Eben Etzebeth 3 Jannie du Plessis 2 Bismarck du Plessis 1 Tendai Mtawarira

Plaasvervangers:
16 Adriaan Strauss 17 Gurthrö Steenkamp 18 Coenie Oosthuizen 19 Franco van der Merwe 20 Siya Kolisi
21 Ruan Pienaar 22 Pat Lambie 23 Jan Serfontein / Juan de Jongh

Afskoptyd is 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.