Bokke oefen in die reën, wind

Die Springbokke tydens hul oefensessie. Foto: RWC

Die Springbokke het Saterdag met hul oefensessie voortgegaan ondanks swaar reën en sterk wind nadat tifoon Hagibis Japan getref het.

Volgens die Wêreldbeker-rugbytoernooi se amptelike verslagspan het talle van die spanne hul oefensiessies vir Saterdag gekanselleer.

Die Bokke het egter voortgegaan met hul oefensessie in Kobe om seker te maak hulle bly fiks tussen hulle laaste wedstryd Dinsdag en hul kwarteindstryd op 20 Oktober.

Damian de Allende het aan die verslagspan gesê hy voel eintlik tuis aangesien hy in Kaapstad woon en gewoond is aan sterk wind en reën.

“Dit was lekker,” het De Allende gesê. “Ons het voorberei om in ʼn binnehuise fasiliteit te oefen, maar ons kon nie daar uitkom nie. So dit was ʼn bietjie onverwags om buite te oefen, maar dit is altyd lekker om in die reën jou vaardighede te toets vir dié soort weer.”

Damian de Allende, Foto: RWC

AP berig Cheslin Kolbe het intussen uitgesit tydens Vrydag se oefensessie en volgens afrigter Rassie Erasmus gee sy enkel hom steeds probleme.

Kolbe sou na verwagting reeds weer in aksie gewees het, maar sy herstel vorder stadiger as verwag. Volgens Erasmus is daar ʼn 80% tot 90% kans dat Kolbe teen Maandag weer saam sal oefen.

Francois Louw en Herschel Jantjies het ook Vrydag se oefensessie misgeloop. Louw het ʼn geswelde knie en volgens Erasmus is hy nou op daardie ouderdom wat dit ná elke wedstryd ʼn bietjie langer vat om te herstel.

Jantjies het ʼn dyspierbesering opgedoen en volgens Erasmus is hy bekommerd, maar het hy nog nie ʼn besluit geneem om hom te vervang nie.

Die Springbokke het na hul wedstryd vroeër die week twee dae af gehad om Japan te verken en volgens Erasmus het hulle maar sukkel-sukkel weer aan die gang gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swartwolf ·

Hoop die bok dames het oorleef. Gaan lees Springbokke vs Skotland 1932 in Skotland. Slietreen en gevriesde modder. Skotte wat die bal dribbel, skare skree “Feet Scotland feet”, bok voorspelers op die bal val om die aanval te stop word stukkend geskop deur die Skotte. Bloed, modder en guts. Bokke wen 6-3. Maak hulle nie meer so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.