Bokke op agtervoet teen Britse en Ierse Leeus

Rassie Erasmus ennJacques Nienaber. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Wanneer Rassie Erasmus en Jacques Nienaber koppe gaan bymekaarsit om die Springbokgroep aan te wys wat die Britse en Ierse Leeus oor sowat twee maande in hul spore moet stuit, behoort dit nie ʼn moeilike taak te wees nie.

Die oorgrote meerderheid van die Springbokspan wat in 2019 die Wêreldbekertoernooi in Japan gewen het, sal weer die regmerkies kry.

Al wat nie daar gaan wees nie, is Beast Mtawarira, Schalk Brits en Francois Louw, wat almal uitgetree het. Daar bestaan dan ook kommer oor die beserings van Handré Pollard, Eben Etzebeth, Lood de Jager, RG Snyman, Pieter-Steph du Toit en Marcel Coetzee (hy was nie in die groep nie).

Volgens hul klubs vorder almal goed met hul rehabilitasie, maar dit gaan ʼn taai tameletjie wees om wedstrydfiks te word ná maande langs die kantlyn.

Erasmus-hulle sal kwaai staatmaak op die groot gros spelers wat oorsee speel, soos Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Jesse Kriel, Malcolm Marx en Kwagga Smith (almal in Japan) en Cheslin Kolbe, Damian de Allende, Pollard, Elton Jantjies, Faf de Klerk, Cobus Reinach, Vincent Koch, Etzebeth en Snyman wat almal in Frankryk of Engeland speel.

Afhangende van die beserings, gaan daar nie baie verrassings wees nie. Alles gaan ook afhang in hoeveel toetse die Bokke die Leeus sal pak (tans is dit drie) en of die Bokke in van die wedstryde vir die Bulls, Sharks, Stormers en gekombineerde spanne teen die Britse Leeus losgelaat sal word.

Alles is in die toerspan se guns, behalwe tuisveldvoordeel.

Hulle speel al maande lank in Europese reekse ná die Covid-19-pandemie met die Sesnasiesreeks agter die blad. Boonop speel die Leeus ʼn opwarmtoets teen Japan.

Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, hoef nie sy net te wyd te span nie, want die swak vertonings van Engeland in die Sesnasiesreeks het reg in sy hande gespeel.

Hy hoef nie meer die Engelse te paai nie en daar sal na alle waarskynlikheid nie meer as agt Engelse in die toerspan wees nie.

Die aandele van Owen Farrell en Maro Itoje het ook as kaptein gedaal en die deur staan wawyd oop vir Gatland om die Walliese strydros Alun Wyn Jones te kies.

Hy sal dus in die voetspore van Willie John McBride (1974), Bill Beaumont (1980), Martin Johnson (1997) en Paul O’ Connell (2009) volg wat ook die Leeus in Suid-Afrika vanuit die slotposisie aangevoer het.

Gatland het ook die deur vir die huidige Engelse afrigtingspan gewys wat nog meer klippe uit sy pad rol.

Van die 13 reekse in Suid-Afrika kon die Britse en Ierse Leeus nog net vier wen – in 1891, 1896, 1974 en in 1997.

Die Bokke het 23 van die 46 toetse gewen, die Leeus 17 en ses toetse het gelykop geëindig.

Die Bokke het 600 punte aangeteken en die Leeus 516.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.