Bokke: Poemas sommer baie tuis in Durban en Mendoza

Daar is so ʼn tikseltjie geskiedenis wat maak dat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, nie te gerus moet wees oor die twee wedstryde in vanjaar se Rugbykampioenskap teen Argentinië nie.

Die Springbokke was, in die 26 toetse tussen die twee lande, net drie keer nie aan die wenkant teen die Poemas nie. Twee van hierdie wedstryde was in Durban en Mendoza, waar die twee spanne oor die eerskomende twee Saterdae hul eerste wedstryde in die 2018 Rugbykampioenskap teen mekaar speel.

Die eerste “skok” vir die Bokke het in 2012 gekom toe die Poemas hulle in Mendoza tot ʼn gelykopuitslag van 16-elk gehou het nadat die Springbokke die vorige Saterdag met 27-6 op Nuweland gewen het. (Terloops, dié twee toetse in die Rugbykampioenskapreeks was, tot op die dag, presies ses jaar voor die twee wat oor die volgende twee naweke volg.)

Toe, in 2015, het die Springbokke in hul eerste wedstryd in die Rugbykampioenskap, in Durban met 25-37 verloor maar toe in Argentinië sake met ʼn oorwinning met 26-12 reggestel.

♦ Mendoza was ook 2013 die Poemas se tuisveld teen Suid-Afrika. Die Springbokke het met 73-13 in die FNB-stadion in Johannesburg gewen en moes toe die volgende week vasbyt om met net 22-17 in Mendoza deur te skraap.

♦ Hoe moeilik dit is om in Argentinië te wen, word deur die twee wedstryde in 2016 se Rugbykampioenskap geïllustreer. Suid-Afrika het in Nelspruit met 30-23 gewen, en toe slegs die tweede keer nóg teen die Poemas verloor. Dit was in Salsa en die telling was 26-24 in Argentinië se guns.

♦ Die Poemas het hul vrees vir toer afgeskud. Hulle het vanjaar, as die Jaguares onder die nuwe nasionale afrigter Mario Ledesma al vier hul Superwedstryde in Australasië gewen.

Hulle het ook teen al vier die Suid-Afrikaanse franchise’e gewen. Al vier oorwinnings was wel in Argentinië, maar die Argentyne se boodskap is daar: ons voel tuis op ons tuisvelde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.