Bokke pronk bo-aan lys ondanks droë jaar

Argieffoto.

Die Springbokke se laaste internasionale wedstryd was die eindstryd van die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Engeland in Japan.

Die Bokke het die wedstryd met 32 – 12 gewen om die Webb Ellis-trofee vir die derde keer in die geskiedenis omhoog te hou.

Maar sedertdien het die wêreldwye Covid-19-pandemie die sportkalender deurmekaar gekrap en die Suid-Afrikaners het nie ’n enkele toets in 2020 gespeel nie.

Die Suid-Afrikaners het vroeër ook besluit om nie hul Rugbykampioenskap-titel te verdedig nie en het hulle aan die reeks teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië onttrek.

Die deurlopende komplikasies rakende die Covid-19-pandemie en kommer dat die welsyn van spelers ernstig in gevaar gestel sal word, het dit volgens SA Rugby (Saru) onmoontlik gemaak om aan Sanzaar die versekering te gee dat Suid-Afrika sal deelneem.

“Dit is ʼn uiters teleurstellende uitkoms vir ons ondersteuners en kommersiële vennote, maar die deurlopende uitwerking van die pandemie beteken ons kan nie ʼn Springbokspan lewer sonder om spelers se welsyn ernstig in gedrang te bring nie,” het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, destyds gesê.

Maar volgens die jongste rugbyranglys, wat Maandag bekend gemaak is, is die Springbokke steeds die beste span ter wêreld, gevolg deur Engeland wat pas vir Frankryk in die eindstryd van die Autumn Nations-beker geklop het.

Die magtige All Blacks, wat vroeër ’n skoknederlaag teen Argentinië gely het, is in die derde plek.

  • Wêreldrugby-ranglys soos op 7 Desember 2020:
  1. Suid-Afrika 94,20 punte
  2. Engeland 89,49 punte
  3. Nieu-Seeland 88,95 punte
  4. Frankryk 85,30 punte
  5. Ierland 84,65 punte
  6. Australië 83,08 punte
  7. Skotland 80,82 punte
  8. Argentinië 80,31 punte
  9. Wallis 79,36 punte
  10. Japan 79,29 punte

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Belaglik. Speel nie een wedstryd nie en is bo-aan die log?

Adam Adriaan ·

Laaste keer in die geskedenis van die mensdom dat dit sal gebeur, mits daar iets drasties verander!!!!

Vrijburger ·

En steeds boikot ek die Springbokke totdat alle kwotas op alle vlakke opgehef word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.