Bokke pronk teen Samoa, ook toe ná die tyd

rugbypale

Argieffoto.

Dit was ʼn Donderdagaand, straks die eerste keer dat ʼn toetswedstryd op dié weeksdag in Suid-Afrika gespeel is.

Boonop was dit die 13de dag van die maand, 13 April 1995.

Maar dié aand het nie ongeluk gebring nie, maar net groot vreugde vir Suid-Afrika, want die Springbokke het hul enigste wedstryd voor die Wêreldbekertoernooi in 1995 op ʼn hoogtepunt afgeskop toe hulle Samoa met 60 – 8 op Ellispark verflenter het.

Die Bokke het nege glansdrieë gedruk, die Samoane van hul doellyn af weggehou en 13 spelers was in die opdrafspan wat slegs ʼn rapsie meer as twee maande later die All Blacks in die WB-eindstryd met 15 – 12 geklop het.

Dit was die Bokke se enigste toets voor die WB-toernooi en daar was vooraf groot belangstelling oor hoe hulle teen die fisieke Samoane, met Mika Umaga, Brian Lima en Pat Lam aan die spits, sou vaar.

Die Bokke het nie teleurgestel nie en dis sekerlik hoekom die onthaal so lekker was en lank aangehou het, want die afrigter, Kitch Christie, het sy planne op die tafel geplaas en die spelers het ingekoop.

Al waaroor wel ʼn bietjie kommer was, was dat die Bokke reeds die kruin bereik het en vir langer as twee maande daarmee moes volhou, wat hulle toe reggekry het.

Afgesien van die agtsteman Rudolph Straeuli (hy was in die eindstryd op die bank) en die heelagter Gavin Johnson (wat deur André Joubert vervang is), was dit die keur van Springbokrugby wat die Franse in die sopnat-halfeind op Kingspark en All Blacks in die eindstryd gesmoor het.

Daar was teen Samoa ʼn ongelooflike 25 000 toeskouers op ʼn Donderdagaand op Ellispark en soos gewoonlik het die Goue Leeus-rugbyunie geen koste ontsien nie.

Daar was ʼn orkes wat agtergrondmusiek gespeel het en geskenke is oor en weer uitgedeel.

Die onthaal het reeds einde se kant toe gestaan toe Samoa se kaptein, Peter Fatialofa (sy beroep in Auckland was ʼn klavierskuiwer), gevra het of hy die Leeus, en Suid-Afrika, vir hul gasvryheid kon bedank.

Ná sy toespraak het hy sy span, wat gepronk het in hul tradisionele rompe en helderblou kleurbaadjies, bymekaargeroep en het hulle begin sing… en sing… en sing.

Dit was al byna middernag, maar niemand het omgegee nie, want dit was een van daardie aande wat niemand vir enigiets sou verruil het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae