Bokke sal Argentyne nie onderskat

Foto:(AP Photo/Aaron Favila)

Hoewel die Poemas hoegenaamd nie kanonvoer op die internasionale verhoog is nie (vra maar net vir die All Blacks), het die Springbok-bestuur steeds besluit om ’n spul veranderinge vir die naweek se toets in die Oos-Kaap te maak.

En wanneer die Suid-Afrikaners se sterkste span nie op die veld is nie, kan enigiets eintlik gebeur (vra dié keer vir SA A-span teen die Blou Bulle).

Tog meen S’bu Nkosi dat die Bokke nie die Poemas-aanslag onderskat nie. Die sterk vleuel van die Haaie het twee drieë in die spanne se vorige ontmoeting – op Loftus Versfeld in 2019 – gedruk.

Een van sy pogings in daardie wedstryd het vir ’n bobaas-fotogeleentheid gesorg toe hy soos ’n wafferse akrobaat bo-oor die Argentynse verdediging geduik het.

“Ons verwag dat hulle met selfvertroue sal speel, terwyl hul fisieke benadering altyd ’n gevaar is. Hulle het onlangs ’n paar reuse laat struikel en ons respekteer hulle,” het Nkosi gesê.

S’bu Nkosi duik oor vir een van sy drieë teen Argentinië op Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan.

Die Poemas het hul grofgeskut vir môre se wedstryd gekies – Julian Montoya sal die span lei, terwyl oudkaptein Pablo Matera ook in die beginspan is. Die veteraan Nicolas Sanchez sal die nommertientrui dra, terwyl die 28-jarige Felipe Ezcurra sy skakelmaat is.

Ná beperkte geleenthede teen die Britse en Ierse Leeus – met vleuels soos Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi is dit maar moeilik vir ’n spoedvraat om in die Bokspan te kom – sien Nkosi uit na die Argentynse tweestryd.

“Hulle is ’n sterk span, maar ons het planne van ons eie beraam.”

Argentinië: Santiago Carreras (heelagter), Bautista Delguy (regtervleuel), Santiago Chocobares (buitesenter), Jeronimo de la Fuente (binnesenter), Matias Moroni (linkervleuel), Nicolas Sanchez (losskakel), Felipe Ezcurra (skrumskakel), Rodrigo Bruni (agtsteman), Facundo Isa (flank), Pablo Matera (flank), Marcos Kreme (slot), Guido Petti (slot), Francisco Gomez Kodela (stut), Julian Montoya (kaptein en haker) en Nahuel Tetaz Chaparro (stut). Plaasvervangers: Facundo Bosch, Carlos Muzzio, Santiago Medrano, Tomas Lavaninni, Matias Alemanno, Gonzalo Bertranou, Domingo Miotti en Sebastian Cancelliere.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.