Bokke sal kwarteindstryd op húl manier wil speel

RG Snyman op die oorlogspad vir Suid-Afrika teen Namibië. Die Bokke het ’n sterk pak voorspelers vir hul uitspeelwedstryd teen Japan gekies. (Foto: Springbokke Twitter)

Probeer maar om die Japannese Ferrari’s, hul ongelooflike passie, hul kanniedood-houding, seepgladde hantering en duisende ondersteuners mis te kyk; dit is alles bysake.

Vergeet ook van wêreldrugby se euforie oor Japan – die Rugbydawid wat meer as een Goliat laat struikel het – óf die feit dat Jamie Joseph se span nou sewende op die wêreldranglys is. Goeiste, kyk ook die feit mis dat van hul spelers selfs die liriek van “Loslappie” sal verstaan …

Want al wat Sondag gaan saak maak, is hoe die Bokke speel. En ’n veglustige Rassie Erasmus het immers gesê die Springbokke sal hulle nie deur Japan laat voorskryf nie.

“Ons wil teen ’n tempo speel waarmee óns gemaklik is, en nie Japan nie,” het Erasmus by ’n mediakonferensie gesê.

Kom ons wees eerlik: Japan se resep om teen ’n hoë tempo te speel – op aanval asook op verdediging – wérk. Voeg daarby hul ongelooflike balvaardighede-bestanddeel en jy sit met ’n brousel waarop ’n topsjef trots sal wees.

Maar die Bokke gaan speel soos wat die Bokke speel: hulle gaan die rolmaalbeweging waarskynlik ten volle benut, terwyl hulle ook sterk sal wil skrum.

Erasmus het juis ’n sterk en ervare pak voorspelers vir die naweek se kwarteindstryd gekies, met ses verdere voorspelers op die plaasvervangersbank.

Moet egter nie dink dat hulle die Japannese net pleinweg sal wil stoomroller nie. Aikôna, Erasmus is ’n uitgeslape kalant.

“Wat Japan baie goed in ’n wedstryd doen, is om kringe om moeë voorspelers te hardloop – veral laat in die eerste helfte, asook in die tweede helfte. Ons het gedink as ons gereeld vars voorspelers opstuur, sal ons hulle nie die nodige ruimte gee om dit te doen nie.

“Ons is ook baie gelukkig dat ons ’n groep veelsydige spelers het wat basies enige rol in die span kan vertolk.”

Die Japannese sprokie was ’n goeie verhaal, maar elke goeie storie moet ook die een of ander tyd tot ’n einde kom. En Erasmus-hulle hoop dat hulle Sondag die laaste hoofstuk in Japan se Wêreldbeker-storie sal skryf.

Dít is nie Brighton nie. Hopelik.

  • Afskoptyd Sondag om 12:15.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker), Beast Mtawarira (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, RG Snyman, Franco Mostert, Francois Louw, Herschel Jantjies en Frans Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Judge Dredd

Jy vergeet die Springbokke se alewige bal weg-skoppery – iets wat ons moontlik duur te staan kan kom.

Andre Coetzee

Nee wat.Sterkte All Blacks.Ons ondersteun met trots.

Poot

Goeie bokspan en reserwe bank.

Pietman

Beteken dit nou tradisionele tienmanrugby? Japan reeds gewys hulle is vindingryk en uitgeslape – hulle het ander spanne (Skotland / Ierland ) geklop wat ook sterk en groot voorspelers het. Hoop nie ons word weereens met ‘n slapriem gevang nie.

m.d.r.

Ek dink Rassie begaan ‘n fout—-die drie voorspelers wat in al die toetse enduit gespeel het was Duane Vermeulen, PieterSteph duToit en Franco Mostert…..Die res was afgehaal en vervang met uitgeruste manne–waarom nou vir Franco van die bank af laat speel ? Gaan Lood de Jager ook die donkiewerk doen van ‘n Mostert…?
Ek vra ook die vraag oor Reinach…?
Rassie reken hulle gaan die wedstryd teen hulle pas speel……jy kan net so goed speel as wat jou opponente jou toelaat om te speel…..!
Pas maar op vir Jamie Joseph se span……hy is uiters uitgeslape….!