Bokke sal moet maak soos Die Lem gesê het

SA RUGBY logoAs die Springbokke die All Blacks Saterdag in Wellington op `n nat veld wil klop, sal hulle `n bladsy uit Die Lem se rugbyfilosofie moet gebruik.

Dié staaltjie word van Henry Honiball (ook bekend as Die Lem) vertel en kom uit die binnekamers van die allerheiligste, die Springbokke se aantrekplek.

Dit was voor `n toets – teen wie en wanneer maak nie nou saak nie – en elke spanlid het kans gekry om vir oulaas iets te sê. Honiball het net geswyg en toe hy aangemoedig word, net een sin kwytgeraak:

“Ag, boys, kom ons tekkel sommer net die *** uit hulle uit.”

Dis een van die aspekte van die Springbokke se spel wat agteruit gegaan het. Waar hulle (soos die Stormers op hul beste) in pare getêkkel en die baldraer drie tree terug geduik het, is dit deesdae dikwels andersom: drie spelers probeer die baldraer vasvat, en hy vorder nog vyf tree oor die voordeellyn.

`n Nat veld – reën en buie word voorspel – maak sake bietjie meer gelyk omdat dit die spel stadiger maak en die bal gladder, en Nieu-Seeland is die span wie se sukses op aanval en vinnige handbewegings gebaseer is. Die Bokke daarenteen – of so lyk dit – glo dat hulle `n beter kans het om te wen as hulle nie die bal het en nie vir lang fases besit hou nie.

Dit klink seker na `n bitter stelling, maar die statistieke dra dit: Die All Blacks het die bal in vanjaar se reeks 1 145 meter gedra, die Bokke 831. Hulle het die bal 28 keer uit die duikvat versprei, die Bokke 11 keer. Dit wys ook dat die Kiwi’s se ondersteunende hardlopers weet wanneer om waar te wees.

Maar baldraers maak soms ook meer foute as die span sonder die bal, wat die ander span die kans bied om die omkeerbesit blitsig uit te buit. Taktiese skoppe het een van die Bokke se groot aanvalswapens geword. Maar taktiese skoppe beteken nie om die bal in die middelveld diep in die opponente se kele af te skop nie . . .

Dit gaan dan seker ook een van die opdragte vir die jong Handré Pollard wees: Moenie jou gewone skeppende spel probeer speel nie – skop net vir gebiedsvoordeel en doen dit baie goed sodat ons opstormende spelers die opponente onder druk kan sit. Want doen ons dit nie, gaan hulle ons flenters hardloop.

In hierdie dae van baie toetse word die kaptein Jean de Villiers die vyfde Bok wat in 100 toetse speel. Van die vorige vier was net Percy Montgomery op die goot dag aan die wenkant. Victor Matfield, John Smit en Bryan Habana moes uit die bitter verloorbeker drink.

Wat `n mens egter kan sê is dat die fokus in die wedstryd nie op De Villiers se prestasie sal wees nie. Vir hom is dit die wedstryd wat tel, nie die dinge daaróm nie, en sy manne het dit al van hom af gehoor.

Die All Blacks het net 70% van hul laaste 20 toetse teen die Wallabies gewen en 80% teen die Springbokke, maar beskou die Bokke steeds as dié uitdaging in wêreldrugby. Suid-Afrika is ook die enigste span wat sedert 1996 drie agtereenvolgende toetse teen die Kiwi’s kon wen. In 1998 het Nick Mallett se span in Wellington met 30% besit 13-3 gewen.

Miskien moet dit `n mens moed gee vir `n Springbokspan onder groot druk, want vreemde dinge het al op `n rugbyveld gebeur. Maar soos die oom by die biddag vir reën gesê het: “Julle kan maar bid, maar die wind waai wes.”

Maar dalk swaai die wind Saterdag om.

Die spanne is:

Nieu-Seeland: 15 Israel Dagg, 14 Ben Smith, 13 Conrad Smith, 12 Ma’a Nonu, 11 Julian Savea, 10 Aaron Cruden, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (k), 6 Steven Luatua, 5 Jeremy Thrush, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett.
Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Joe Moody, 18 Ben Franks, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Sam Cane, 21 TJ Perenara, 22 Beauden Barrett, 23 Cory Jane.

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Marcell Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Bismarck du Plessis, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Lodewyk de Jager, 20 Warren Whiteley, 21 Francois Hougaard, 22 Pat Lambie, 23 Damian de Allende.

Saterdag om 09:35 in Wellington.

Weervoorspelling: 14 ºC. 60% kans op reën en buie.

Skeidsregter:Jérôme Garcès (Frankryk)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HEVW ·

Glo nie daar moet veel geskop word nie. Die All Blacks het n uitgewerkte aanvalspatroon van agter af wat baie moeilik gestuit kan word. Hulle sal beslis nie veel skop nie. Hulle sal met daardie gebreekte damwal lopies tot by die doellyn speel. Nee die vuurproef le by die voorspelers vir 80 min. lank. Onder nat omstandighede moet deurendheid met kort aangeee in die middelveld gespeel word. Die spel sal meer vas en fisies moet wees. Die voorspelers sal hul man moet kan staan en domineer. Ek twyfel of hul hard en fiks genoeg is daarvoor. Ek dink die wind sal more ook maar nog wes waai. En soms baie sterk en troosteloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.