Bokke sal stryd tussen Wallis en Skotland fyn dophou

Wallis en Skotland het so ʼn proeseltjie van die frustrasie wat die sogenaamde toetsgleuf vir spanne inhou, beleef, en speel Saterdag (16:45) in die Principality-stadion sonder van hul voorste spelers teen mekaar.

Geen land mag dié naweek spelers gebruik wat sy klubrugby elders speel nie omdat die naweek se wedstryde buite die toetsgleuf val.

Vir Suid-Afrika is hierdie wedstryd, ondanks die spanne se afwesige spelers, van groot belang. Hulle speel oor twee weke op Murrayfield teen Skotland en die week daarna in die Principality-stadion teen Wallis, en die wedstryd sal ongetwyfeld goed dopgehou en deur die Suid-Afrikaanse afrigters ontleed word.

Wallis sal sonder die twee Britse en Ierse Leeus Liam Williams en Dan Biggar, en ook die ervare vaskop Tomas Francis (33 toetse) en Josh Adams moet klaarkom.

Die Drake het nietemin steeds sewe Britse en Ierse Leeus in hul span en die ervaring van 650 toetse vir die wedstryd.

Skotland se gereelde kaptein Greig Laidlaw (ook ʼn Leeu) kon ook nie oorweeg word nie. Hy speel tans in Frankryk vir Clermont.

♦ Die voormalige stut van die Cheetahs, WP Nel, en die senter Huw Jones wat vir die Stormers gespeel het, is in die Skotse span.

Skotland het in 2002 laas in Cardiff gewen. Hulle het verlede jaar in die Sesnasies-reeks met 7-34 teen Wallis verloor, maar toe in Junie met 44-15 teen die Poemas, wat daardie dag vrotsig was, in Argentinië afgereken.

Net vier van daardie verswakte Skotse span wat die Poemas opgefrommel het, draf Saterdag teen Wallis uit.

♦ Dit sal die eerste keer wees wat Skotland in die jaareindtoetse ʼn wegwedstryd speel.

Die ongewone wedstryd tussen twee van die tuis-unies op die jaareindprogram is ter ondersteuning van die voormalige slot van Skotland en die Britse en Ierse leeus, Doddie Weir, by wie daar motorneuronsiekte gediagnoseer is.

Die spanne ‒

Wallis
15 Leigh Halfpenny, 14 George North, 13 Jonathan Davies, 12 Hadleigh Parkes, 11 Luke Morgan, 10 Gareth Anscombe, 9 Gareth Davies, 8 Ross Moriarty, 7 Justin Tipuric, 6 Dan Lydiate, 5 Alun Wyn Jones (kaptein), 4 Cory Hill, 3 Dillon Lewis, 2 Ken Owens, 1 Nicky Smith. Bank: 16 Elliot Dee, 17 Rob Evans, 18 Leon Brown, 19 Adam Beard, 20 Aaron Wainwright, 21 Tomos Williams, 22 Jarrod Evans, 23 Steff Evans.
Skotland

15 Blair Kinghorn, 14 Tommy Seymour, 13 Huw Jones, 12 Alex Dunbar, 11 Lee Jones, 10 Adam Hastings, 9 Ali Price, 8 Ryan Wilson, 7 Hamish Watson, 6 Jamie Ritchie, 5 Jonny Gray, 4 Ben Toolis, 3 WP Nel, 2 Stuart McInally (kaptein), 1 Allan Dell. Bank: 16 Fraser Brown, 17 Alex Allan, 18 Simon Berghan, 19 Grant Gilchrist, 20 Matt Fagerson, 21 George Horne, 22 Pete Horne, 23 Darcy Graham.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.