Bokke se bloudruk belangrik, maar …

Handré Pollard. (Foto GB Jordaan)

Die Springbokke se skop-en-verdedig-benadering tot ’n internasionale wedstryd het al baie kritiek ontlok.

Almal – van Stuart Barnes en Steve Hansen tot Sean Fitzpatrick en die rusbankkenner by die braai – het al die Suid-Afrikaners se taktiek bevraagteken.

Barnes het selfs verlede jaar ’n pleidooi aan die Nieu-Seelanders gerig: “Kom red asseblief wêreldrugby van die vervelige Springbokke!”

Maar, sê Handré Pollard, daar gaan nie sommer van hierdie wenplan afgewyk word nie.

“Ons het ons manier van speel en ons glo in daardie plan. Ons sal daarby hou en kyk hoe sake ná die eerste 20 minute staan. As ons enige aanpassingswerk moet doen, sal ons dit deurvoer.”

Die Springbok-losskakel het bygevoeg dat die span beslis elke geleentheid met albei hande teen die All Blacks sal aangryp, terwyl daar ook ’n teenvoeter vir die Nieu-Seelanders se flinke voetwerk en aanvallende spel gevind moet word.

“Dit gaan oorlog wees. Jy wil nie vir die All Blacks enige spelruimte gee nie en skopwerk kan dus van groot belang wees.”

Net soos Pollard wil Pieter-Steph du Toit ook die Springbok-ondersteuners trots maak.

“Ons het in 2014 laas teen die All Blacks op ons tuisveld gewen en dit is ’n voorreg om teen hulle te speel. Dít is ’n goeie geleentheid om vir almal te wys waar Springbok-rugby nou staan. Ja, tyd het aanbeweeg en ons moet aanpas, maar ons is opgewonde oor die uitdaging.”

Faf de Klerk laat waai met sy skopvoet. Foto: Odd Andersen.

Hansen, die Nieu-Seelandse afrigter wat ’n magdom wedstryde aan die stuur van die All Blacks gewen het, het destyds die Bokke se wedstrydplan – veral teen die Britse en Ierse Leeus – bevraagteken.

“Dit is nie ’n wedstryd waarna enigiemand sal wil kyk nie. Ja, ons soek ’n goeie fisieke wedstryd, dit is immers waaroor die spel gaan – spoed, vaardighede en om balbesit doeltreffend te gebruik. Het ons dit in die Leeusreeks gesien? Natuurlik nie.”

Tog het Suid-Afrika al vantevore gewys dat hulle die ratverwisseling van “vervelige” na “opwindende” rugby kan maak.

In verlede jaar se tweede wedstryd teen die All Blacks in Australië het die Springbokke met ’n heldhaftige vertoning die wedstryd gewen. Hulle het die bal meer lug gegee en het nie vir die Kiwi’s op die aanval teruggestaan nie.

’n Kopskuif kan dus gedurende ’n wedstryd gemaak word. Hulle moet net op hul voete dink en dit doen voordat dit te laat is.

’n Mens kan immers maklik ’n wedstryd teen die All Blacks wegskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

krodedil ·

Baie goeie artikel. Ek stem saam dat Bokrugby regtig vervelig is om te kyk. Jy weet dit gaan stampkar rugby met baie doellose skoppies wees. So word baie toeskouer weggejaag om vir ander spanne te skreeu wat lekker kyk rugby is. Ek praat nie eers van die kopbeserings wat deur stamkar rugby veroorsaak word nie.

Harley Davidson ·

Ek sal sê net die teenoorgestelde is hier van toepassing.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Hele paar Bokke gaan teen ouderdom 40 met MND en vroeë dimentia gediagnoseer word. SA Rugby kan solank vir eise voorberei.

kaplyn ·

Pollard se dat hulle by die skop en storm ruby gaan hou vir die eerste 20 min en daarna aanpassings maak. Die AB gaan hulle van hulle voete af hardloop en ek dink dat na 20 min se skop en skop en skop gaan die telling reeds 30 – 0 wees vir die AB. Dan is dit te laaaaaat om aanpassings te maak. Hier kom ‘n slagting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.