Bokke se droewige terugkeer in 1992

gerber.jpeg

‘n Jong Danie Gerber in aksie. Argieffoto.

Wanneer ʼn span toetsrugby speel, moet hy behoorlik voorbereid wees en moet daar ordentlike beplanning wees.

Dit is Rassie Erasmus se bloudruk vir toetsrugby, en waar staan die Webb Ellis-trofee?

Maar dit was nie die geval in 1992 nie, toe die Springbokke weer toegelaat is om toetsrugby te speel nadat hulle laas in 1989 in twee toetse teen ʼn Wêreldspan uitgedraf het.

Die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie het dit goedgedink om twee terugkeertoetse teen die twee beste spanne in die wêreld te reël: die All Blacks, wat in 1987 die Wêreldbekertoernooi gewen het, en Australië, wat in 1991 die kampioen was nadat hulle die All Blacks in die halfeindronde met 16-6 geklop het en Engeland met 12-6 in die eindstryd verslaan het.

Boonop het die rugbybase uit die hande van die All Blacks en Wallabies geëet, want die All Blacks het eers 11 wedstryde op ʼn toer deur Australië gespeel (wat drie toetse ingesluit het) en toe nog vier toerwedstryde in Suid-Afrika as opwarming gespeel voordat hulle die Bokke op 15 Augustus op  Ellispark gepak het.

Die Wallabies, ook lekker fiks ná die All Black-toer, het drie toerwedstryde teen Wes-Transvaal, Noord-Transvaal en die Oostelike Provinsie gespeel voordat hulle die Bokke op 22 Augustus op Nuweland gepak het.

Daar was ʼn groot gaping tussen die spanne, want die Wallabies en All Blacks se samespel was beter, hulle het die spel vinniger gemaak, terwyl die Bokke voorspelbaar was ná soveel jare in die rugbywoestyn.

Die All Blacks het die Bokke met 27-24 geklop nadat hulle die wedstryd in die sakkie gehad het, maar byna vergeet het om dit toe te knoop.

Twee drieë teen die einde deur Danie Gerber en Pieter Müller het ewe skielik ʼn paar rimpelings in die All Black-kamp veroorsaak en die duisende Suid-Afrikaanse ondersteuners moed gegee vir die Wallaby-toets.

Toe dit boonop op Nuweland gesous het, is daar geglo dat Naas Botha die toutjies sou trek, maar dit was nie die geval nie.

Die Wallabies het die Bokke voorlangs verrinneweer, Michael Lynagh het op losskakel die rol van Botha oorgeneem en Tim Horan, Jason Little, David Campese en Paul Carruzzo het op die modderveld baljaar.

Die telling van 26-3 sou na alle waarskynlikheid nog groter gewees het as die veld droog was, want die Wallabies was die Bokke ligjare vooruit.

Dit was ʼn tydige wekroep vir die Suid-Afrikaanse rugbybase, spelers, afrigters, ondersteuners en die media, hoewel die saadjie geplant is om binne ʼn seisoen of twee weer ʼn krag in wêreldrugby te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.