Bokke se kommer oor RG, Eben

Eben Etzebeth. (Foto: DIARMID COURREGES/AFP)

Daar is nog ʼn geringe kans dat Springbok-slot RG Snyman in die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus kan speel.

Hy het teruggekeer Ierland toe vir ʼn veloorplanting nadat hy verlede maand brandwonde in ʼn fratsongeluk opgedoen het.

Die ander kopseer vir die Bokkamp is Eben Etzebeth. Hy het Vrydagaand ʼn ribbesering opgedoen en die veld verlaat tydens die Springbokke se oorwinning van 40-9 teen Georgië.

Hulpafrigter Deon Davids sê die mediese span hou Etzebeth se besering dop. Afrigter Jacques Nienaber sal oor ʼn dag of twee besluit of hy beskikbaar is om Vrydag in die tweede toets teen Georgië te speel.

Die Bokke het hulle week reeds Sondag met ʼn videosessie van die wedstryd teen Georgië afgeskop. Daarna het die span ook geoefen. Davids sê daar is ʼn sterk drang in die groep om hulle spelvertoning te verbeter in aanloop tot die reeks teen die Britse en Ierse Leeus.

“Die spelers het na hulle spel gekyk en wat hulle beter kan doen. Ons het ʼn goeie gesprek gevoer oor die spelgebiede waar ons kan verbeter. Ons is vol vertroue dat die spelers wat Vrydag gaan speel, dit sal kan doen,” het Davids gesê.

Pieter-Steph du Toit. (Foto: Christiaan Kotze/AFP)

Springbok-flank Pieter-Steph du Toit is ook vol vertroue dat die span sy spelpeil kan lig. “Daar is klein goedjies wat ons moet regstel, maar ek dink nie dis enigiets om oor bekommerd te wees nie.”

Du Toit kan ook op slot speel en as Snyman nie beskikbaar is om teen die Britse en Ierse Leeus uit te draf nie, kan hy dalk ingespan word.

“Ek sal beslis probeer om in daardie posisie te speel as ek moet. Ek het lanklaas daar gespeel, maar die grootste verskil is in die skrumwerk en ek is bereid om hard daaraan te werk.

“Dit sal ʼn eer wees om teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Ek sal in enige posisie in die span speel as ek moet,” het Du Toit gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.