Bokke se spel g’n wiegelied, kap wakker Davids terug

Die Bokke kan drieë druk. Hier duik Makazole Mapimpi oor vir een die Suid-Afrikaners se drieë in die tweede toets. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Deon Davids, die Springbokke se hulp-afrigter, meen dat die Suid-Afrikaners nie vervelige rugby speel nie, maar dat hulle volgens ’n plan speel om ’n doelwit te bereik.

Dit kom nadat Ian Foster, hoofafrigter van die All Blacks, gesê het dat hy aan die slaap geraak het terwyl hy na die tweede toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad gekyk het.

Die Springbokke het die wedstryd met 27-9 gewen om die reeks aan die gang te hou en hulle het veral die laaste 40 minute van die spel oorheers.

Maar weens al die onderbrekings het die wedstryd 126 minute geduur en volgens die Kiwi-breier was dit moeilik om sy oë oop te hou.

“Ek het die kragmeting tussen 22:00 en 01:00 (Nieu-Seelandse tyd) probeer volg, maar dit het my aan die slaap gesus,” het Foster gesê.

Volgens Foster wil al twee spanne bitter graag die reeks wen en daarom speel hulle meer konserwatiewe rugby.

“Wat is die antwoord as jy nie risiko’s wil neem nie? Jy skop die bal. Almal volg egter ’n ander pad.”

Tog glo Davids dat om skapies te tel ’n baie beter doepa vir slapeloosheid is as die toetsreeks tussen die Bokke en die Leeus.

“Daar is ’n plan met alles. Wanneer ons dinge korrek op die veld uitvoer, gaan dit nie vir ons om vervelige rugby te speel nie, maar om te verstaan wat ons wil bereik,” het Davids gesê.

“Sodoende skep ons genoeg geleentheid om met die bal te hardloop en drieë te druk. Ek het vertroue in hierdie benadering en waarheen dit ons lei.”

Volgens Davids het die Bokke dieselfde benadering gevolg toe hulle die Rugbykampioenskap en die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2019 gewen het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Seker een van die mees arroganste rugby nasies. Nog steeds suur druiwe oor die wereldbeker. Hy behoort te weet toetsrugby is is anders as super 15. Wonder hoe sou sy span gevaar het teen daai brutale bokke in 2 de helfte van laas Saterdag se toets.

Harry ·

Jy sal wel in so 2 weke uitvind wanneer die Rugby Championship begin, dis nou as die SA span nie weer n verskoning het om nie deel te neem nie, soos in 2020

Afriperd ·

Wel ek sal nie betaal vir n kaartjie om na die bokke te kyk nie, eks bly ons het gewen maar die tipe rugby is onkykbaar. Ons as toeskouers wil die spel geniet. Weet nie waar Davids kom van hardloop rugby en driee druk nie, ons ken een manier, skop die bal en hoop. Agterlyn sien nie n bal nie. Ek wil hardloop rugby sien, maar dit gaan ek nie by die bokke sien nie.

koos10 ·

Divan, op daai sokkeveld waarop hulle gespeel het was hardloop rugby amper onmoontlik. Die onderbou van die veld is so te sê seesand. Die B&I Leeus het maar netso lekker geskop.

MakersMark ·

Bokke het ‘n reuse pak, uitstekende verdediging en akkurate skopwerk. Hulle speel ‘n patroon wat hul sterkte pas. Die wat beweer die agterlyn is nie kreatief nie gaan kyk weer na daai twee skoppies wat na laasweek se drieë gelei het. Dit was briljant, toetsrugby is nie skole rugby nie so die wat ‘n drieëfees wil sien kyk skolerugby. Geen punt om “aantreklike” rugby te speel en te verloor nie. Om toetse te wen is die doelwit van ‘n nasionale span.

Anthony ·

Ek dink ook ons skop te veel. Die hele skop en verdedig ding is n gevaarlike ” game plan” in my opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.