Bokke se ster kan Saterdag se toets misloop

Bokke op Nuweland (Foto: Inus Grobler)

Bokke op Nuweland (Foto: Inus Grobler)

Een van die Springbokke se groot sterre Saterdag het net ‘n 50-50 kans om fiks te wees vir die naweek se toets teen die All Blacks op Ellispark.

Duane Vermeulen – wat uit alle oorde net die hoogste lof vir sy spel gekry het – is in die 62ste minuut met ‘n ribbesering van die veld. Dit het beteken dat Schalk Burger na agsteman en Victor Matfield na flank verskuif het, met Bakkies Botha op slot.

Vermeulen se fisieke teenwoordigheid sal baie in die All Black-toets gemis word as hy nie betyds herstel nie.

“Ek dink Duane is besig om sy heel beste rugby te speel,” het Heyneke Meyer gesê.

‘n Span is deesdae ook so goed soos sy bank, en die Springbokke het weer getoon dat hulle seker die sterkste bank in wêreldrugby het, veral as die spelers op die regte tyd aangewend word en nie sommer net ter wille van nog ‘n toets op hul CV’s ingespan word nie.

Michael Hooper, die Wallaby-kaptein, het in soveel woorde erken dat hul bank nie die gewenste invloed gehad het nie en het verwys na veral die opkoms van Schalk Burger (54ste minuut) en Pat Lambie (58ste minuut). Die feit dat die Aussies 260 duikvatte moes uitvoer en 13 strafskoppe (teenoor Suid-Afrika se vier) afgestaan het, het ook getoon hoe aanvallend en gedissiplineer die Bokke was.

‘n Mens moet ook die hoed lig vir Nigel Owens, wat die fluitjie uitstekend hanteer het.

Jean de Villiers het gesê die span het geglo dat as daar by die strukture gehou word, die skaal in die laaste tien minute sal swaai. Dat hy self twee van die laaste drie drieë gedruk het, het die kroon gespan.

Slegte nuus vir Aussies

Ewen McKenzie, die Wallabies se afrigter, was teleurgesteld oor die wyse waarop sy span in die laaste tien minute gekaputileer het. Dit is slegte nuus vir Australië, wat finansieel in die knyp is en wie se strewe na die nommer twee plek op die wêreldranglys nog ‘n knou gekry het.

“Ons het ons kanse gehad, maar ons was nie goed of slim genoeg om oor die doellyn te kom nie en het onsself keer op keer teen ‘n baksteenmuur vasgeloop.”

Die geldknyp is só erg dat daar nou reeds pogings aangewend word om die Britse en Ierse Leeus op hul toer in Nieu-Seeland ook ‘n draai in Australië te laat maak.

Poemas sukkel streeds    

Die Wallabies speel die naweek teen die Poemas, wat Sondag 13-34 teen die All Blacks verloor het. Die Kiwi’s was in alle opsigte hul meesters en het net-net die beste in die skrums gevaar en die lynstane en afbreekpunte oorheers, wat ‘n mens opnuut laat wonder hoekom die Bokke so gesukkel het. Die toets in La Plata het ook getoon dat daar nog ‘n lang en steil opdraande vir Argentynse rugby voorlê.

Dit lyk al hoe meer of Meyer in ‘n stadium sal moet kyk na ‘n voorry bestaande uit Nyakane, Strauss en Van der Merwe. Maar ‘n toets teen die All Blacks is waarskynlik nie die regte wedstryd om dit te doen nie.

François Hougaard het baie van die twyfel oor hom op skrumskakel Saterdag besweer en Cobus Reinach het die meeste gemaak van sy drie minute in ‘n Boktrui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.