Bokke se steragterlyn terug die naweek

Cheslin Kolbe is weer in die Bokke se beginspan teen Argentinië. Foto: GB Jordaan.

Jacques Nienaber het die snoeiskêr nadergetrek en Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi en Handré Pollard word Saterdag teen Argentinië losgelaat. Daar is altesaam 11 veranderinge in die beginspan aangebring wat verlede week met die Suid-Amerikaners afgereken het.

Benewens die agterlynveranderinge is Franco Mostert, Thomas du Toit, Malcolm Marx en Trevor Nyakane ook in die vyftiental.

Lood de Jager, wat in sy 50ste wedstryd vir die Springbokke speel, sal saam met Marvin Orie in die lynstane rank.

Oudergewoonte sal daar ses voorspelers en twee agterspelers op die plaasvervangersbank wees.

Hoewel Nienaber tevrede is met die feit dat die Springbokke hul Rugbykampioenskap-veldtog op ’n wennoot begin het, erken hy dat daar ongetwyfeld ruimte vir verbetering is.

“Ons verwag ’n kwaai aanslag van die Argentyne en daar is ’n paar dinge waaraan ons moet werk indien ons die titel suksesvol wil verdedig. Ons sal ook beter as verlede week moet speel as ons die komende wedstryd wil wen.”

Lood de Jager sal in sy vyftigste toets speel. Foto: Martin Bureau/AFP.

Die Springbok-afrigter het ook hulde aan De Jager gebring en sy werksetiek geloof.

Ja, die Bokke gaan waarskynlik weer met ’n paar skoppe vorendag kom en die daaropvolgende sokker-kommentaar is seker onvermydelik, maar as hulle wen het ’n mens mos nie veel om oor te kla nie; of hoe?

Daardie agterlyn verdien egter om ’n bietjie meer van die bal te sien.

Die aksie begin Saterdag om 17:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Marvin Orie (slot), Thomas du Toit (stut), Malcolm Marx (haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Nicolaas van Rensburg, Kwagga Smith, Dan du Preez, Jaden Hendrikse en Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anton ·

Bring Dan du Preez op as heelagter. Hy is beter as Willemse :-)

Afriperd ·

Ek hoop regtig ons doen meer hardloop werk die toets, ja ons wen maar dit is glad nie mooi om na te kyk nie, en tog speel hulle vir die mense om na te kyk. Lelike skop rugby is nie iets na wat ek wil kyk nie.
Dis mooi om te sien as die agterlyn hardloop met n bal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.