Daar loop nog baie CJ Standers in Suid-Afrika rond.
Talentvolle spelers wat om die een of ander rede in ander lande met hul talente gaan woeker het, en toe die spreekwoordelike pot goud met harde oefening en deursettingsvermoë ontdek het.
Stander het Sondag in Dublin in die Sesnasiesreeks sy buiging vir Ierland teen Wallis gemaak en hy is as die speler van die wedstryd aangewys. Die lofsange reën sedertdien op hom neer en daar word na hom as Superman, briljant, vreeloos, asemrowend en die ongelooflike reus verwys.
Hy het 23 keer met die bal weggebreek (net vyf ander spelers het dit sedert 2000 meer kere in die Sesnasiesreeks kon doen), hy het 40 meter veld met sy kraglopies gewen, en boonop 11 teenstanders platgetrek.
Ek lek al my lippe af wanneer die Iere oor `n paar maande in drie toetse teen die Bokke kom speel.
Maar hoekom is hy weg? Toe hy jare gelede as kaptein van die SA Skolespan en SA o.20-span aangewys is, was daar Springbok op dié produk van die Hoër Landbouskool Oakdale in George se voorkop geskryf. Almal het voorspel dat hy die regte besluit geneem het en die regte paadjie sou stap toe hy ná skool na Pretoria verhuis het: daar waar Springbokke gekweek word.
Toe hy boonop die Blou Bulle se jongspanne aangevoer het, 36 wedstryde vir die Blou Bulle gepeel het en 16 keer vir die Bulls in Superwedstryde uitgedraf het, was die volgende logiese stap die Groen en Goud.
Maar iemand moes in Frans Ludeke (Bulls-afrigter), Heyneke Meyer (Bok-afrigter) – of wie ook al anders – se ore gefluister dat Stander (1,89 m, 114 kg) kwansuis te klein is.
By die Bulls moes hy met Arno Botha meeding, asook met Deon Stegmann (wat kleiner as Stander is). By die Bokke was daar Francois Louw, Schalk Burger, Willem Alberts, Marcell Coetzee, Siaya Kolisi en Duane Vermeulen, spelers wat almal beter in Meyer se Bok-patroon van fisieke oorheersing gepas het.
Dan was daar ook nog die ander kleintjie: Heinrich Brűssow.
Die vraag is dus, sou Stander vir die Bokke gespeel het?
Sy spel het baie groot baat gevind in Ierland, die toestande in die Noordelike Halfrond pas hom soos `n handskoen, en hy het gedy onder die afrigerskap van onder andere die Nieu-Seelander Rob Penney, Anthony Foley en nou ook Joe Schmidt, die Ierse afrigter.
Nieu-Seelanders speel vir Skotland, Italië en Wallis. Die Tuilagis en Vunipolas speel vir Engeland en daar is baie min spanne wat nie `n Fidjiaan of `n ander speler van die Suidsee-eilande in hul spanne het nie.
Toe Tiaan Strauss, Clyde Rathbone en Dan Vickerman destyds na Australië uitgewyk het, toe Pieter de Villiers vir die Franse Hane gespeel het, toe Dion O’ Cuinneagan as Ierland se kaptein aangewys is, was dit `n nuutjie. Maar nou word die lys van oud-Suid-Afrikaanse spelers wat vir ander lande speel, byna weekliks langer. Dink maar aan WP Nel, Josh Strauss, Richardt Strauss, Dries van Schalkwyk, Quinton Geldenhuys, Braam Steyn, Scott Spedding, Bernard le Roux, Rory Kockott, Anthonie Claassen, DTH van der Merwe, Johannes van Heerden, Niku Kruger en Brad Barritt en nog `n rits ander.
Dis nuwe geleenthede wat oopgaan, dis kanse wat aangegryp moet word – CJ Stander het dit Sondag bewys.
CJ het geweet dat spanne hier nie meer op meriete gekies word. Ja ons het uitstekende losvoorspelers maar die kwota stelsel laat baie belowende spelers uitwyk oorsee waar spanne op meriete gekies word.
Om nie van die sterk Euro en Pond te praat nie. Geen vergelyking nie.
Kwotas kwotas dis mos wat ANC wil hê talent is nie ñ faktor nie