Bokke skraap deur in reën en hael

Springbokke vs die Poemas (Foto: GB Jordaan)

Springbokke vs die Poemas (Foto: GB Jordaan)

‘n Toets wat in hael en vir lang tye gietende reën gespeel is, maak dit haas ontmoontlik om vier drieë te druk en uiteindelik was die Springbokke ietwat gelukkig om Argentinië 13-6 te klop.

Die Poemas het dwarsdeur die wedstryd ‘n oorhand in die lynstane, die skrums en selfs by die breekpunte gehad. Hulle het nie gelyk soos die melkkoei in Superrugby nie en dit was net onverskrokke verdedigng wat hulle in die laaste agt minute van die Springbokke se doellyn weggehou het.

Die Springbokke se taktiese skopwerk was ook nie van die regte soort vir die toestande nie. Hulle kon meer van rollende skoppe gebruik gemaak het, pleks van om die Poemaheelagter Tuculet die kans te gee om elke skop met rente terug te stuur. 

Gelukkig vir die Bokke het hulle hul neus reeds binne die eerste twee minute 7-0 voor gekry toe Ruaan Pienaar ‘n lynstaangemaal kon afrond ná ‘n goeie binne-aangee deur Cornal Hendriks. Al die ander punte was van strafdoele.

In die 64ste minuut – net 13-6 voor – het die Bokke knaend aangeval deur skoppe pale toe te ignoreer en liewer lynstane af te dwing – selfs al het hulle geweet hulle leef swaar in daardie faset.

Die Poemas het die aanslae suksesvol afgeweer en tien minute later self in die Bokke se rooigebied kamp opgeslaan.

Dit was net die Bokke se rotsvaste verdediging wat gekeer het dat die besoekers gelykop kon speel.

Vir Suid-Afrika was Willie le Roux, behalwe vir een fout, die rots van Gibraltar in die laaste vesting, terwyl Duane Vermeulen agter die sukkelende Bokskrums en François Louw in die algemeen reusewerk verrig het.

Punte

Suid-Afrika (10) 16:  Drie: Ruan Pienaar. Doelskop: Handré Pollard. Strafdoele: Pollard, Morné Steyn 2. 

Argentinië (3) 6: Strafdoele: Nicolás Sanchez 2.

Spanne 

Suid-Afrika:15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Damian de Allende, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Marcel Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Lodewyk de Jager, 4 Bakkies Botha, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.

Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Trevor Nyakane, 18 Frans Malherbe, 19 Eben Etzebeth, 20 Oupa Mohoje, 21 Francois Hougaard, 22 Morné Steyn, 23 Jan Serfontein.

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Santiago González Iglesias, 11 Manuel Montero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Juan Manuel Leguizamón, 7 Juan Martín Fernández Lobbe, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (captain), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matías Cortese, 17 Lucas Noguera Paz, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matías Alemanno, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomás Cubelli, 22 Jerónimo de la Fuente, 23 Lucas González Amorosino.

Beamptes

Skeidsregter: John Lacey (Ierland)
Assistente: Steve Walsh (Australië), Marius Mitrea (Italië)
TV: Simon McDowell (Ierland)

Gaan kyk gerus na die foto’s van dié wedstryd geneem deur GB Jordaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.