Bokke sonder Pollard, Am

Lukhanyo Am op die aanval teen die All Blacks. Foto: GB Jordaan.

Handré Pollard en Lukhanyo Am is op pad terug na hul franchise-spanne vir verdere mediese evaluering. Die twee agterspelers het kniebeserings in die afgelope naweek se wedstryd opgedoen en hulle is nie vir die komende toets in Sydney oorweeg nie.

Damian Willemse en Jesse Kriel sal nou hul skoene as losskakel en buitesenter teen die Wallabies volstaan.

Die twee beseerde spelers behoort ook nie deel van die Springbokke se Argentynse avontuur te wees nie. Volgens die spanbestuur sal daar ook nie nou al versterkings ingeroep word nie.

“Dit is altyd sleg om spelers aan beserings af te staan, maar dit open weer die deur vir ander ouens om hul vaardighede in die betrokke posisies uit te stal,” het Jacques Nienaber gesê.

Daar word verwag dat Elton Jantjies (hand) en Pieter-Steph du Toit (knie) voldoende van hul beserings sal herstel om deel van die Rugbykampioenskap-aksie te bly.

“Daar is nou 32 spelers in die groep. Ons verwag dat Elton gereed vir die wedstryde teen Argentinië sal wees, terwyl André (Esterhuizen), Jesse (Kriel) en Frans (Steyn) almal bekwame senters is.”

Die Springbokke se Handré Pollard. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Springbokke sal Saterdag poog om hul Rugbykampioenskap-veldtog weer op koers te kry nadat hulle teen die All Blacks en die Wallabies in opeenvolgende wedstryde verloor het.

Nienaber het ’n spul veranderinge tot die span aangebring wat teen Australië in Adelaide vasgeval het.

Benewens Pollard en Am se plaasvervangers is Willie le Roux, Jaden Hendrikse, Jasper Wiese, Franco Mostert, Malcolm Marx en Steven Kitshoff in die Suid-Afrikaners se opdrafspan.

Die 19-jarige Canan Moodie sal ook sy Springbok-buiging op regtervleuel maak.

Volgens Nienaber is Saterdag se wedstryd maak of breek vir die Springbokke in die Rugbykampioenskap.

“Ons benader dit as ’n eindstryd om in die toernooi-wedloop te bly en ons verwag dat Australië net so desperaat soos ons sal wees om ’n goeie vertoning te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

De Villiers ·

Pollard kan maar gerus huis toe kom, maar ons gaan Am baie mis!

Dries ·

Soo vorder chokers ook. Stadig vorentoe vat net lank. Iewers sal ons iets weer wen

Gideon ·

Bokke gaan eers weer wen in SA as hulle teen Arg speel die 24ste Sep….Voor dan gaan Aus met 6 wen en Arg met 9

Niklaas ·

So, die wedstryd is “maak of breek” vir die arme Bokke . Maar met ‘n paar vreemde spankeuses kry mens nie die indruk dat daar ‘n sterk wenmotief is nie. Laat ek maar hoop my twyfel en vrese word besweer Saterdag oggend , maar dis nie maklik om nou optimisties te wees nie.

Pieter9 ·

Sonder Am is die ‘brains’ en vaardighede uit die span… Dit gaan ‘n moeilike Saterdag wees.

N ·

Is ons rugby regtig in so groot moeilik dat ons op Elton Jantjies staan maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.