Bokke speel Engelse en hul skeptici stil

Willie le Roux druk sy drie teen Engeland. (Foto GB Jordaan)

Een swaeltjie maak gewis nie somer nie, maar daar is na Saterdag se eerste toets teen Engeland op Ellispark ʼn horde doemprofete wat hulle woorde moet sluk en hul gifpenne moet wegbêre.

Sowat van terugveg, en vir groot gedeeltes van ʼn wedstryd oorheers, nadat jy ná 16 minute met 3-24 agter was, sien ʼn mens nie aldag nie.

Volpunte aan die Springbokkaptein Siya Kolisi en sy leiersadjudante wat die jong span uit daardie gat uit kon kalmeer en motiveer.

Die Springbokke het teen Engeland op Ellispark met 42-39 gewen, en soos Engeland vyf drieë gedruk.

Kolisi-hulle het ná die nagmerrie-begin sake tot sowat tien minute voor die einde voorlangs oorheers, en die laaste van Engeland se twee laaste drieë het reg teen die einde eers gekom. Voor hierdie drie het die Bokke na die aanvanklike skok 39 punte teen net agt aangeteken.

RG Snyman, een vn die groot uitblinkers teen Engeland, met Wilco Louw en Franco Mostert byderhand om te help. (Foto GB Mostert)

Dit was nie net dryf en maal nie. Die agterlyn het pragtig gehardloop, goeie oordeel aan die dag gelê en daar was goeie kombinasie tussen die voor- en agterspelers. Diegene wat Rassie Erasmus voortydig afgetakel het dat hy weer net skop-en-storm rugby sou afrig, se monde is deeglik gesnoer; en hy het boonop met sy spankeuse raakgevat.

Ellispark was doodstil toe die Engelse hul derde drie ná net 16 minute gaan druk het. Daar was duidelik fout met die Bokke se verdedigingstruktuur en die vleuels was ál drie keer uit posisie omdat hulle binnetoe moes gaan help keer.

Maar toe dié probleem oorkom is, was daar vir die tuisskare net eenvoudig heerlikheid. In elk geval totdat die Engelse hier teen die einde begin hardloop het.

Faf de Klerk was ʼn totaal ander speler as die een wat in 2016 met voortvarendheid soveel van sy goeie werk ongedaan gemaak het. Sy opsies was uitstekend, sy diens aan Pollard net hier en daar nie 100% nie, en hy het die Engelse om die skrums en losskrums sommer baie besig gehou.

Wat die meeste indruk gemaak het, was egter die vinnige diens wat hy aan sy agterlyn gelewer het.

De Klerk was die speler van die wedstryd, maar ʼn mens kan eintlik almal wat voet op die veld gesit het uitsonder. Handré Pollard, veral, was uitstekend; Willie le Roux het ʼn drie gedruk en die jonges van die agterste driehoek om hom saamgesnoer met S’Bu Nkosi (2) en Aphiwe Dyantyi wat ook gaan druk het.

Bongi Mbonambi het ingeklim, gekeer en gedryf; Siya Kolisi was midde-in die voorspelerstryd; Duane Vermeulen het soos die agstemanne van ouds op die regte tye agter gaan dek en grootliks die Engelse skoptaktiek geneutraliseer; RG Snyman hoort op hierdie vlak, Franco Mostert was ʼn werkesel soos altyd  …

En so kan jy aangaan. Daar moet aan daardie gate van vroeg geskaaf word, en daar is nog ander sakies wat seker aandag moet geniet. Maar die drie eerste keer saam, was dit goed en lekker..

Dit was, saam met voorverlede week se loesing teen die Barbarians, Engeland se vyfde opeenvolgende neerlaag, en die druk op Eddie Jones begin nou werklik toeneem.

Puntemakers ‒

Suid-Afrika (29) 42: Drieë: Faf de Klerk, S’bu Nkosi (2), Willie le Roux, Aphiwe Dyantyi. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoele: Pollard (3).
Engeland (27) 39: Drieë: Mike Brown, Elliott Daly, Owen Farrell, Maro Itoje, Jonny May. Doelskoppe: Owen Farrell (4). Strafdoel: Daly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Wesley ·

Waar is die giftige kommentaar wat hierdie bladsye oorspoel het die laaste week? Hoegenaamd nie n somer wat ons nou al sit nie, baie werk le nog voor, maar nou kruip alle doemprofete gelukkig vir die week weg in hul grotte

What a joke! ·

Hier is ek ou Weezley! Ek sal jou se jou Sondebokke het ok maar net net deur geskuur ou maat!…Daar is te veel spelers wat deur ander gedra moet word…Dit is soos om met n af been te gaan probeer speel,die res van die liggaam wil maar daai af been trek jou af!
Hoeveel beter kan die span nie weens as hul net die spelers op meriete kies nie.
Tot hul nie weg doen met die belaglikke belediging kwota sisteem nie daar gesit deur jou anc sal jy altyd mense soos ek kry wat homself verlekker elke keer julle verloor !

Wesley ·

Ja nee glad nie swak kritiek oor die laaste 10min nie rollie, dit sal ek nie galbraak noem nie. Dit was n swak besluit om Faf af te haal. Maar om sulke swak kommentaar soos ou jokie hierso is onvanpas wat ek liewer nie my tyd sal mee mors nie. SA rugby is in laagte waar ons onself moet uittrek. Maar die wen is in die regte rigting. NZ is myle voor ons, maar ek ondersteun nie die ABs nie so ek sal maar als realisties hou vir die span wat ek ondersteun. Ons kan net voort bou.

Al ·

Hi Wesley, laat ek gou jou terugbring tot realiteit! Coetzee neem oor en ons wen die reeks teen Frankryk. ‘n Jaar later ….. Coetzee weg. Een swaeltjie maak seker jou somer, maar Engeland was power in die Sesnasies. Ons wil lig sien, maar die werklike toets gaan wees om ‘n paar wedstryde te wen – veral teen die All Blacks. Dan sal die gifpenne verbrand en begrawe word!

Wesley ·

Twyfel die gifpenne sal ooit verbrand word AI. Ons het ABs vermorsel in 2009, maar nogsteeds was gifpenne uit vir de Villiers en kie. John Smit was uitgekryt as swakste haker en almal aangehang dat Jake als vir Div op n silver skinkbord neergele het. Maar jy speel wat voor jou is. Nes die Engelse. Laas jaar was almal bang vir Engeland en Bokke afgeskryf as 3-0 reeks verloorders. Nou skuif hul net weer die doelpale. “Engeland is swak”. “Wag tot die ABs”. Ja laat ons maar wag. Ek glo almal wat van rugby hou sien verskriklik uit. Ek glo ons sal weer nie ABs wen die jaar nie, dalk n snuf kans met baie geluk hier in SA. Was tot amper laas jaar vermag met ou Toetie in die Kaap. Maar realisties, nee ek weet dit, soos ek se ABs myle voor. My kop se nee, maar my hart sal altyd ja se. Dis hoe ek maar ondersteun. Ek sal altyd hoop. As jy vrede vind om ander sleg te se en fout te vind met als, vind vrede ou maat, maar ek sal liewer nie slegse nie. Realisties sonder gif.

rollie ·

Dankbaar dat ons gewen het maar amper die wedstryd verloor deur wat net kan beskryf word as dom besluite deur die afrigter. Tien punte voor, twee minute om te gaan en wat doen Rassie – haal Faf af en vervang hom met ‘n onervare skrumskakel wat plotseling droogmaak (eers skop hy nie die bal uit van binne sy kwartgebied nie plus nog ‘n doellose skop wat besit afstaan). Verder word ‘n vleuel afgehaal en ‘n losskakel in sy plek opgestuur. So dom soos ‘n plank, sou fataal gewees het teen ‘n span soos NZ.

Wesley ·

Lyk my ek verkeerd. Die gal sal maar gebraak word. Moet rerig sad wees om als in so negatiewe manier te sien ne. Ja dit sal dom wees om nie die foute raak te sien en daaraan te werk nie, maar sjoe die lewe moet swaar wees om niks meer te kan geniet in die lewe nie. Dit is maar Rassie en die manne om verder te werk en ons kan maar geniet wat vir ons nou gegee is. Terwyl die mense maar suur is sal ek en Robert n lekker smile op ons gesig he vir die week “thank you very much”

rollie ·

Wesley, maar dink jy nie dis geldige kritiek teen Rassie nie? En dis nie net Rassie nie, daar is talle afrigters wat net die bank gebruik omdat dit daar is. Maar om twee sleutelspelers twee minute voor die einde te vervang terwyl die wedstryd nog nie gewen is nie, maak nie vir my sin nie. Ek hoop nie hy doen hierdie tipe van dinge teen ‘n span soos NZ nie, lg. is baie lief om hier op nommer 99 deur te skraap op die rug van die opponente se foute.

Capexit ·

Die titel van die artikel geld natuurlik veral vir my. Ek was so omgekrap na 20 minute dat ek die kassie afgeskakel het en vloek vloek gaan honde str#nt optel het buite in die tuin. Halftyd loop haal my vrou my en met n sarkastiese “smug” op haar gesig laat sy so n woordjie los dat ek dalk tog moet gaan kyk wat daar op die TV aangaan. Ja. OK well nou fine. Sal dit nou maar tog duidelik erken dat ek ‘n vrot Springbok verloorder is.
Welgedaan bokkies. Goeie begin, maar ek sal eers weer na julle verwys as Springbokke as julle ten minste 5 wedstryde in ‘n ry gewen kan kry. Ons vleuels het dalk drieë gedruk, maar hul gaan hul alie sien teen die rooinekke in Bloemfontein.
Ek hoop na regte dat ek weer verkeerd bewys kan word.

Dries ·

Skeptici stil gespeel? Regtig? Vyf drieë elk en die “Bokke” wen met ‘n gelukskoot teen die einde met met 3 punte teen ‘n baie gemiddelde Engelse span wat nou al vyf wedstryde in ‘n ry verloor het. Ek nou het hulle hul sceptici stil gespeel. Ha ha ha. Die arme “geskiedkudige” kaptein loop van een losskrum na die volgende. Hy het géén invloed op die wedstryd gehad nie, maar nou is hy ons nuwe superheld! Neewat, hierdie Afrikanervolk verdien wat hulle kry as hulle hierdie gekkespul wil omarm….

charl ·

gelukkig kan elk voel soos hulle wil ons kan sê wat ons ons wil maar ons rugby was in n toestand gewees tot en met vinaand dries en ja gemiddelde span ja maar was engelse so gemiddeld dat japan hulle sou wen sekerlik nie! manne was honger vir die wen en ek sal hom vat die bokke is wat ons hoop gee om willie duane en almal daar te sien en FAF jy mag maar jys n yster. rassie moenie ontspan noe daar is nog 3 toetse oor so wys asb vir ons dat ons n gemiddelde span kan klop asb!!! dis dalk n begin

LHS ·

Kom ons stel dit so. Indien dit nie Willie le Roux was wat heelagter gespeel het en bykans n hele hand se vingers in elke drie gehad het nie, sou die telling heel moontlik baie anders gelyk het. Met hom en Faf op sy stukke, asook genoeg balbesit, kon dinge gebeur. Ongelukkig is daar spelers gewees wat selfs onder hierdie gunstige omstandighede steeds maar net daar was.Engeland speel sonder van hulle beter spelers en is werklik nie n groot faktor om teen gemeet te word nie, 5 verlore in n ry wys alles. Kom ons wag maar en kyk hoe gaan dit vorentoe.

DHK ·

Jy slaan die spyker op sy kop, Dries. Die meerderheid Afrikaners word verblind deur hul sug na “koning” rugby. Hierdie “oorwinning” oor ‘n middelmatige Engelse span laat hulle dadelik vergeet van plaasmoorde, onderdrukking en misdaad en die dreigende grondvergrype. Ergste is die entoesiastiese ondersteuning aan ‘n ritueel voor die toets wat geen wedergebore Christen aan durf meedoen nie. Dit som die geestelike stand van my volk treffend op. Ek is bedroef oor ons verval en afvalligheid.

Veritas ·

Ek het nie na die wedstryd gekyk nie maar sal graag wou weet of die Bokke goed was of die Engelse swak.

Riaan ·

Soos die kommentators aan gegaan het na die wedstryd het dit geklink of die bokke die world cup gewen het.
Die kaptein was geprys dat hy alles by mekaar gehou het, maar kan nie eers n stomers span by mekaar hou nie.
Sal sien hoe hulle vaar teen die All Blacks, dan kan mens bepaal waar hulle staan.

piet ferreira ·

Amper verloor is baie lekkerder as amper wen. Engeland se rugby mag dalk nie meer ‘n maatstaf wees nie na die rits nederlae nie maar die moontlikheid is groot dat die bokke onder Toetie aan stuur 24 – 0 voor sou wees maar steeds die wedstryd verloor het met swak plaasvervangers. Vermeulen is steeds ‘n yster en dit is jammer dat hy nie die kaptein kan wees nie. Ons hoop vir die beste.

Pietsepan ·

Daar is te veel swak verdedig. Die Engelse is ‘n gemiddelde span wat nie ‘n goeie maatstaf is nie.

Hoopvol ·

Daar wag nog baie harde werk voor vir die Springbokke. Die eerste klomp minute was hulle pateties. Maar iewers vandaan het hulle rigting gevind! Ek’s baie gelukkig met die wen maar daar was werklik te veel foute om opgewonde te raak. Ja, ek neem aan hulle sal nog daai samespel verbeter want daar was baie induviduele spel alhoewel hulle begin saamspeel het by tye. Met ‘n afrigter wat ook nog maar op daai vlak sy voete vind is ek gelukkig. Om na ‘n wen te werk aan jou foute is makliker as om sonder geloof aan jouself die foute te probeer regmaak. Daai vervangings aan die einde het ons amper die wedstryd gekos en daarvoor sal Rassie moet waak. Hoekom moet iemand uit posisie opgestuur word om iemand wat redelik goed speel te vervang?
Sterkte Bokke!
Harde werk lê voor maar daar is potensiaal! Pasop egter on nie nou grootkop te kry nie. Nou eers moet julle gemotibveerd hard aan die werk spring. Wat ons Kaptein betref is sy spel maar middelmatig. Hoop maar sy leierskap regverdig sy keuse!

Jannie ·

Daar lê nog twee toetse voor vir die Bontebokke…….die reeks is nog nie verby nie…en die wen-telling was geensins oortuigend nie!!!

Frans C ·

Goeie genugtig ,wanneer is die skrywer gebore en hoe kyk hy na rugby?Kolisi? Nee nie Kolisi nie, maar die manne van oorsee wat die knoop deurgehaak het, tesame met RG Snyman wat ‘n reuse wedstryd gespeel het en toe werklike voorry op die veld verskyn die Rose verder laat verwelk het.

Pollard ‘n goeie wedstryd? Nee swak skopwerk pale toe en die manier waarop veral Brown sy byna nie bestaande verdediging blootgelê het voorspel niks goed teen die sterk hardlopers van Australie en NZ.

Dankie Faf jy het bewys hou groot Suid Afrika en die Lions se verlies was toe jy besluit het om oorsee te gaan.Jy het nie geskroom om die grootste voorspeler plat te trek nie en het met jou vinnge reaksie ‘n drie gedruk,wat my aan ‘n Joost van der Westhuizen herhinner het.

Welgedaan jy het bewys dat van ons beste spelers tans oorsee is.En dan die vraag-hoekom het die Bokke gewen? Die Engelse het voorlangs verwelk en uit stoom geraak,maar selfs met die laaste drie weereens bewys dat hul agter ‘n beter pak voorspelers ‘n werklike gevaar inhou vir spanne.

En die Bokke as hul nie hul verdediginging opknap nie wag ‘n groter pakslae op hulle as wat die Franse gekry het teen NZ.5 drieê elk vertel die verhaal van Ellispark.Dit gaan nie
oor hoeveel gedruk is nie,hoeveel het jy gekeer, wat jou verdediging weerspieël.

rollie ·

Kolisi het goed gespeel en gelei. Stem saam dat Pollard nie oortuig nie maar dan was Pollard nog nooit een van my gunsteling spelers nie, hy moet definitief leer om te tackle. Sy swak skopwerk pale toe kan ons ook ‘n paar naby toetse kos.

Frans C ·

Faf het die man van die wedstryd titel gekry,maar glo my nie Kolisi nie,maar RG Snyman
was die hart van die pak.Sonder sy spel kon dinge anders gelyk het.Wat nou kortkom is ‘n speler soos Bakkies om saam met hom ‘n slotpaar te vorm,soos Matfield en Bakkies.

Cjan ·

Die Bokspelers wat hul kant gebring het wat van die begin gespeel het was nr 4, 5, 8, 9,10, 11, 14 & 15. Die ander was almal onder gemiddeld. Senters was swak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.