Bokke speel in Poemas se ‘agterplaas’

Salta Stadion

Salta Stadion

Die Springbokke speel Saterdagaand (21:40) in die Poemas se “agterplaas.” Die All Blacks sal hul toets in die hipermoderne La Plata-stadion naby Buenos Aires speel. (Sien foto’s in berig.)

Die Bokke se toets is in Salta, heel in die noorde van Argentinië in ‘n klein stadion (kapasiteit 20 408) met “hoenderstellasies” vir paviljoene. Hierteenoor is die Estadio Ciudad de La Plata onderdak (soos Twickenham) met ‘n kapasiteit van 53 000 (of 42 000 afhangende van wie jy glo). La Plata is ‘n satellietstad van Buenos Aires.

Die Padre Ernesto Martearena-stadium in Salta is eintlik ‘n sokkerveld en is gebou vir die Junior Wêreldtoernooi van 2001. Dit is ook Argentinië se kleinste stadion en figureer nie eens op die lys van grootste stadions nie. Presies hoe groot die veld is, sal ons moet sien, net soos dat ons sal moet duimvashou dat die TV-dekking van die wedstryd darem min of meer op peil sal wees.

La Plata

La Plata

Die amptelike rede van die Argentynse rugbyunie vir die keuse van veld  is dat hulle die spel op hierdie wyse wil uitbou. ‘n Mens kan ook jou eie afleidings maak, soos dat die Bokke dalk geteiken word, of dat dit die prys is wat jy betaal as jou span nie die wêreld se nommereenspan is nie. (Die Wallabies se toets is in Mendoza in die Estadio Malvinas Argentinas met sy kapasiteit van 40 000.)

Nog net twee toetse is voorheen in Salta daar gespeel: teen Italië en Engeland.

Salta lê heel in die noorde van Argentinië op ‘n hoogte van 1 100 meter in die subtropiese hoogland met sy droë winters. Die stad is die tuiste van net meer as 600 000 mense en is die Argentynse stad met die bes bewaarde koloniale erfenis.

NASKRIF: Die Bokke het darem al op ‘n baie kleiner veld gespeel. Dit was aan die einde van 1981 se ‘betogertoer’ in Nieu-Seeland teen Amerika. Die toets is op die Owl Creek Poloveld in Glenville, NY, beslis. Daar was 30 toeskouers en die toets is so in die geheim gespeel dat van Wynand Claassen se toergroep eers agterna daarvan gehoor het. Die Bokke het 38-7 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.