Bokke teen All Blacks in Queensland

Handré Pollard. (Foto GB Jordaan)

Die Springbokke sal vanjaar teen die All Blacks speel; maar nie in Dunedin, Parys of Cardiff nie. Sanzaar het die nuus bevestig dat die oorblywende Rugbykampioenskap-wedstryde in Queensland (Australië) beslis sal word.

Maroela Media het vroeër berig dat streng reis- en kwarantynregulasies die Rugbykampioenskap in ’n logistieke chaos gedompel het.

Volgens Brendan Morris, Sanzaar se uitvoerende hoof, is die moontlikheid aanvanklik ondersoek om die oorblywende wedstryde in Suid-Afrika of Europa te speel, maar daar is uiteindelik op Queensland besluit.

“Ons is baie opgewonde oor hierde unieke formaat waar van die wêreld se beste spelers in dubbeldoor-naweekkragmetings in Queensland te siene sal wees,” het Morris gesê.

Volgens Stirling Hinchliffe (Queensland se sportminister) is daar geskarrel om die spelers, beamptes en inwoners se gesondheid en veiligheid te verseker.

“Queensland se gesondheidshoof het op streng bio-veilige regulasies vir die agt wedstryde aangedring. Die komende wedstryde is ongetwyfeld ’n bonus vir die staat se rugbyliefhebbers, maar baie inwoners is steeds bekommerd oor die invloed van die Delta-variant,” het Hinchliffe gesê.

Die Springbokke sal hul 100ste toets teen die All Blacks op 25 September op die Country Bank-stadion in Townsville speel.

Die voormalige Engeland-losskakel, Stuart Barnes, het geskryf dat hy dat hy baie waardering vir die Bokke se durf en toewyding het; die All Blacks moet net asseblief wêreldrugby van die Suid-Afrikaners se konserwatiewe benadering kom red.

“Verdediging is die Springbokke se hoofprioriteit en in hul strewe om nie noodwendig die beste te wees nie, maar om die beste te klop, het hulle ’n tree in die verkeerde rigting gegee.”

Tog sien Nick Mallett na die komende tweestryd uit.

“Nieu-Seeland is die beste hardlooprugbyspan ter wêreld, ons is weer die beste om spelers plat te duik wat met die bal hardloop. Ons vastefasetspel is beter, ons rolmaalbewegings is sterker en ons skoppe is meer doeltreffend; dit beloof om ’n titaniese tweestryd te wees,” het Mallett gesê.

  • Bepalings:

12 September (CBUS Super-stadion): Nieu-Seeland teen Argentinië; Suid-Afrika teen Australië.

18 September (Suncorp-stadion): Argentinië teen Nieu-Seeland; Australië teen Suid-Afrika.

25 September (Country Bank-stadion): Nieu-Seeland teen Suid-Afrika; Australië teen Argentinië.

2 Oktober (CBUS Super-stadion): Suid-Afrika teen Nieu-Seeland; Argentinië teen Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.