Bokke teen die Poema-‘boelies’ in Salta

Juan Smith (foto belfasttelegraph.co.uk)

Juan Smith (foto belfasttelegraph.co.uk)

‘Boeta, vandag is dit bul teen bul – soos die ou jong vuis-in-die lug gesê het toe die weerlig die bottel vaaljapie uit sy arms slaan.’

Nou ja, dit was in 1960 die vermaarde joernalis Dirk Kamfer se inleiding voor die Springbokke se stryd teen Wallis in Cardiff. Die Bokke speel wel nie teen Wallis (of die All Blacks!) nie, maar dis Saterdagaand `n ander vorm van bul teen bul, want die Bokke het die gewoonte om in Argentinië te sukkel. En die Poemas is stert-in-die-lug ná verlede naweek.

Wat dit moeiliker maak vir die Bokke is hulle gesukkel in Argentinië (die laaste twee jaar se tellings was 22-17 en 16-elk) en dat die veld in Salta ekstra vreemd vir hulle gaan wees. Die Estadio Padre Ernesto Martearena (kapasiteit 20 408) is na `n vermoorde Katolieke priester genoem en lê 1 100 meter bo seevlak – 200 meter laer as Loftus. Dit is een van die binnelandse velde en die Poemas het Frankryk, Italië, Fidji en Wallis juis in die binneland geklop.

Argitekte van anti-rugby

Maar meer as dit: Die Poemas het – soos Brendan Venter geskryf het – die argitekte van anti-rugby geword. Om hom aan te haal: “Nie net was hulle sinies met die baie strafskoppe teen hulle nie, maar ook met die wyse waarop hulle in die skrums, lynstane en by die breekpunte gespeel het. Hulle was niks meer as `n spul boelies nie en is bygestaan deur `n baie gemiddelde skeidsregter.”

`n Mens moet hoop dat Steve Walsh meer van hul truuks sal raaksien en straf, en hopelik kyk hy ook hoe hul agterlyn dit regkry om so vinnig by die baldraers te kom. John Lacey, wat laasweek geblaas het, is een van sy assistente en hopelik leer die Ier iets van Walsh.

Dit alles is steeds nie `n verskoning vir die Bokke se swakkerige vertoning op `n sopnat Loftus nie. Die skielike en onvoorspelde hael en reën het die Bokke met die broek op die knieë gevang, maar dit is ook die soort weer wat hulle aanstaande jaar in die Wêreldbeker te wagte kan wees, iets wat Heyneke Meyer dalk opnuut na `n paar Europese Bokke kan laat kyk

Die Springbokke het erken dat hulle die Vrydag nog ingestel was op vier drieë vir `n bonuspunt en dat daar `n paar nuwe bewegings met Willie le Roux in die pyplyn was.

`n Bonuspunt in Salta sal ook alles behalwe maklik wees, maar hopelik kry ons iets van die Bokke se nuwe agterlynplanne te sien. Ons moet ook hoop die Bok-voorry (nou met Guthrö Steenkamp) vaar veel beter in die skrums, want dit is besig om `n hoofpyn te word.

In die lynstane het die Bokke drie slotte – Etzebeth, De Jager en Botha – wat nog nie saam gespeel het nie, maar daar sal weer goeie ondersteuning kom van Duane Vermeulen en nou ook met die wonderbaarlike terugkeer van Juan Smith. Hy sal Vermeulen ook as baldraer kan help, iets wat nie Marcell Coetzee se sterkpunt is nie.

Die aandag sal weer opnuut gevestig word op Pollard en `n mens moet hoop De Allende toon dat hy aan Meyer se hoë verwagtinge sal voldoen. Daar sal natuurlik weer `n groot premie op taktiese skopwerk wees, en ons moet hoop dat Pollard, Pienaar en Le Roux die sokkerveld se afmetings gou onder die knie kry.

♦ O ja, die Springbokke het Wallis in daardie 1960-moddertoets met `n enkele strafdoel deur Keith Oxlee 3-0 gewen.

Die spanne is:

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Lucas González Amorosino, 13 Marcelo Bosch, 12 Juan Martín Hernández, 11 Manuel Montero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Juan Manuel Leguizamón, 7 Juan Martín Fernández Lobbe, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (k), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matías Cortese, 17 Bruno Postiglioni, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matías Alemanno, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomás Cubelli, 22 Jerónimo De la Fuente, 23 Horacio Agulla.

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Damian de Allende, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Juan Smith, 6 Francois Louw, 5 Lodewyk de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Gurthrö Steenkamp.
Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Tendai Mtawarira, 18 Frans Malherbe, 19 Bakkies Botha, 20 Marcell Coetzee, 21 Francois Hougaard, 22 Morné Steyn, 23 Lwazi Mvovo

Saterdag 23 Augustus. Afskop: 21:40 (16:40 Argentynse tyd).

Vrydag se weer in Salta: 24 ºC, 50% Wolkbedekking, 36% humiditeit.

Beamptes
Skeidsregter: Steve Walsh (Australië)
Assistente: John Lacey (Ierland), Marius Mitrea (Italë)
TV: Vinny Munro (Nieu-Seeland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.