‘Bokke’ teen Georgië in eerste toets van Covid-era

Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

Uiteindelik! Die Springbokke kan hul voorbereiding vir die komende toer van die Britse en Ierse Leeus darem met die vuur van ’n toetswedstryd of twee louter.

SA Rugby (Saru) het vandag bevestig dat die Suid-Afrikaners vir Georgië in twee tuiswedstryde sal aanvat. Die presiese datums en venues moet nog verskaf word, maar die kragmetings sal waarskynlik in die eerste twee naweke van Julie beslis word.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, is opgewonde oor die jongste verwikkelinge.

“Niks kan by ’n internasionale wedstryd kers vashou om jou vaardighede en vermoë om druk te hanteer te toets nie. Ons is baie opgewonde om hierdie geleentheid op die vooraand van die Britse en Ierse Leeus se toer te kry,” het Erasmus gesê.

Volgens Erasmus het die Springbokke se nuwe hoofafrigter, Jacques Nienaber, onverpoos saam met sy span gewerk om die Suid-Afrikaners gereed te kry vir die Britte se aanslag en die Georgië-wedstryde sal van onskatbare waarde wees.

“Die bevestiging van die reeks teen Georgië en die aankondiging van die Britse en Ierse Leeus se toerspan het vir groot opwinding gesorg en dit het wondere vir die spelers se gemoed verrig,” het Nienaber gesê.

Die Springbokke het nog net een keer vantevore teen die Oos-Europese land gespeel en dit was in die 2003-Wêreldbeker-rugbytoernooi – ’n kragmeting wat die “Bokke” maklik gewen het.

Tog sien die besoekers – wat 12de op die wêreldranglys is – uit na hul komende toer.

“Dit is vir ons ’n groot eer om teen die Springbokke te speel. In 2003 het ons die eerste drie van die wedstryd gedruk, maar daar het intussen baie water in die see geloop,” het Georgië se Lasha Khurtsidze gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sarel ·

jammer om te se maar springbokke gaan groot pak kry by britse leeus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.