Bokke teen Wallis in VSA: dis geld teen rugby

Nêrens word dit reeds as ʼn voldonge feit verklaar nie, maar die mediaberigte oor ʼn vierde toets in Junie waaroor blykbaar onderhandel word, laat jou wonder of geld weer oor gesonde verstand sal seëvier.

Wallis, wat op hulle Junie-toer twee toetse teen die Poemas speel, wil op pad Argentinië toe nog ʼn wedstryd inpas. Die datum wat hulle in gedagte het, is 2 Junie en hul beoogde teenstander is die Springbokke, sê BBC Wales Sport. Die wedstryd sal in Washington gespeel word.

Sou SA Rugby werklik daaroor nadink en dit aanvaar, sal dit enersyds beteken dat die Bokke ʼn losmaker kry teen Wallis – teen wie hulle vroeër dié maand met 22-24 verloor het – voordat hulle die daaropvolgende drie Saterdae teen Engeland speel. (Sien die bepalings hieronder.)

Dit sal uiteraard ook ʼn groot betaaldag vir SA Rugby kan beteken, omdat die Amerikaners honger vir rugby tussen die Vlak 1-lande is.

Maar daar is ʼn teenkant: sal dit wys wees om vier toetse op vier opeenvolgende Saterdae te speel teen Wallis, wat hulle afgelope twee wedstryde teen die Springbokke gewen het; en dan teen Engeland, wat nommer twee op die wêreldranglys is en tans moontlik sterker as die All Blacks is?

Kry die afrigter wat nog nie aangestel is, darem ʼn sê in die besluit?

Al vier Suid-Afrika se Superspanne, die Bulls (Vrydag 25 Mei), en die Sharks, en die Stormers en Lions teen mekaar op die Saterdag, speel nog die vorige naweek Superrugby.

Dit sal hulle soos sake nou staan twee weke gee om voor te berei vir die eerste toets teen Engeland, maar as die Walliese wedstryd bykom, sal hulle net ʼn week hê – en boonop net sowat vier dae vir moontlike oorsese Springbokke om by hulle ter voorbereiding vir Engeland aan te sluit en in te pas.

Ook is daar die vlugflouheid van die VSA terug Suid-Afrika toe.

Inkomende toer, teen Engeland
Junie   9 – Ellispark
Junie 16 – Vrystaatstadion
Junie 23 – Nuweland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Indien SA Rugby enigsins toeskouers wil terug kry langs velde en voor TV’s ( lees: “inkomste”) en ook ondersteuners weer entoesiasties maak, moet ernstig besin word en ook innoverende aksies ingestel word.
Oorweeg dit om die beste 40 of so SA rugbyspelers te kies – selfs die wat oorsee speel (indien dit bekostig kan word natuurlik) en roteer die spelers in soveel moontlike wedstryde op plekke as wat kan. Moenie volhard net slegs beste 15 plus sogenaamde impakspelers nie. Bestuur die poel spelers baie oordeelkundig dog vindingryk om die groep so sterk en mededingend as moontlik te maak en sodoende ook te verseker die groep is gesog reg oor die wereld – daar is meer as genoeg spelers om iets opwindends te vermag. Die addisionele kostes verbonde aan so n groot groep en alles wat daarmee saamgaan behoort redelik maklik gedek te kan kan word uit groter inkomste – mits die groep suksesvol is en aantreklike rugby kan speel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.