Bokke toon All Blacks kán geklop word

Wenners, wenners, wenners! Die Bokke vier die sege (Foto: GB Jordaan).

Wenners, wenners, wenners! Die Bokke vier die sege (Foto: GB Jordaan).

As daar iemand is wat dink die Springbokke was gelukkig om die All Blacks  te klop – dink aan Oom Boy Louw se legendariese stellng: ‘Looks at the scoreboard’. En die telbord het ná 80 minute gesê Suid-Arika 27, Nieu-Seeland 25.

Ja, daar was bietjie geluk by, maar dit geld elke wedstryd waarin die punteverskil klein is.

Die Bokke het van hul heel beste rugby in die eerste helfte gespeel en het met rustyd 21-13 voorgeloop. In die tweede helfte was die skoen aan die ander voet, en dit was net hardnekkige verdediging wat die Kiwi’s uitgehou het. Uiteindelik was dit ‘n strafdoel van 55 meter wat die sege in die 78ste minuut verseker het.

En kom ons sê dit: die Springbokke het lank laas ‘n losskakel van Handré Pollard se gehalte gehad. Afgesien van sy algehele spel het sy twee kragdrieë getoon dat daar baie vaardighede skuil in hierdie lyf van 1,88 m en 96 kg.

Die Bokke se eerste drie is in die 11de minuut van hul eie 22 af deur Francois Hougaard afgerond.

Die statistieke van die eerste helfte toon die Bokke se oorheersing: Hulle het net 33 duikslae uitgevoer teen die Kiwi’s se 73 en daarmee ook getoon dat hulle die bal wyd kan speel en resultate behaal.

Die tweede helfte was ‘n ander storie met drieë deur Ben Smith en Dane Coles, en net twee strafdoele van die Bokke.

Die Bokke het hul man goed gestaan in die skrums, nege omkeerbesitte teen die All Blacks se ses gemaak, maar altesaam drie lynstane verloor sonder om een af te neem – en van hulle was kritiek.

Die ander tekortkoming was dat die plaasvervangers hierdie keer te vroeg opgestuur is en nie werklik ‘n verskil gemaak het nie.

Suid-Afrika se sleutelspelers – Hougaard, Pollard, Le Roux en sy twee hakers was almal beter as die All Blacks s’n.

Ten slotte: die All Blacks kán geklop word, en daar is skielik ‘n yslike berg van Heyneke Meyer se skouers af.

Spanne

Suid-Afrika:15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (kaptein), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Francois Hougaard, 8 Duane Vermeulen, 7 Teboho Mohoje, 6 Marcell Coetzee, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Bakkies Botha, 20 Schalk Burger, 21 Cobus Reinach, 22 Pat Lambie, 23 JP Pietersen.

Nieu-Seeland:15 Israel Dagg, 14 Ben Smith, 13 Conrad Smith, 12 Malakai Fekitoa, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Jerome Kaino, 5 Sam Whitelock, 4 Jeremy Thrush, 3 Owen Franks, 2 Keven Mealamu, 1 Joe Moody.
Bank: 16 Dane Coles, 17 Ben Franks, 18 Charlie Faumuina, 19 Steven Luatua, 20 Liam Messam, 21 Tawera Kerr-Barlow, 22 Colin Slade, 23 Ryan Crotty.

Punte

Suid-Afrika (21) 27: Drieë: Derick Hougaard (11), Handré Pollard 27, Pollard 28. Doelskoppe: Hougaard 3. Strafdoele: Pollard, Lambie.

Nieu-Seeland (13) 25: Drieë: Malakai Fekitoa (33), Ben Smith (65), Dane Coles 69. Doelskoppe: Beauden Barrett 2. Strafdoele: Barret 2.

Skeidsregter: Wayne Barnes.

Gaan kyk gerus na al die wedstrydfoto’s geneem deur GB Jordaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.