Bokke tuis,maar dis maak- of- breek

images[4]

Die Springbokke is terug in Suid-Afrika ná drie wegwedstryde, maar in die pylvak van die Rugbykampioenskap is dit allermins die tyd vir oorgerus raak oor hierdie tuisveldvoordeel want ’n reusetaak wag op hulle in die volgende twee weke.

Al is die Wallabies nie tans die gedugste opposisie nie, is dit steeds ’n maak-of-breek wedstryd vir die Springbokke teen ’n span wat hul trots wil terugwen ná die 12-38 loesing in Brisbane. Suid-Afrika is tans vier punte agter Nieu-Seeland op die puntelys en sal die laaste twee wedstryde teen die Wallabies en All Blacks móét wen om as kampioene gekroon te word nadat hulle op 14 September in Auckland met 15-29 teen laasgenoemde vasgeval het.

Heyneke Meyer weet dat ’n skielike verandering aan sy wedstrydplan en span nie nou sal deug nie en het besluit om geringe veranderinge vir Saterdag se toets op Nuweland aan te bring.

Die naam van Fourie du Preez, wat Ruan Pienaar vervang in die beginspan, sal oorgenoeg vrees by die groen Wallabies inboesem. Die Wallabies, en veral James O’Connor en Israel Folau, kan heelwat akkurate hoë skoppe van agter die skrums en losgemale te wagte wees met hierdie Bokveteraan aan diens. Enige foute onder die hoë balle sal beter gebiedsvoordeel en balbesit vir die Bokke beteken en die Brumbieskaptein en Wallabylosvoorspeler, Ben Mowen, het reeds aangedui hulle het daarop voorberei in die aanloop tot hierdie toets.

Meyer het dit daarbenewens duidelik gemaak dat sy span nie die bonuspunt gaan jaag nie, maar eerstens mik om net te wen. Jy hoef egter nie ’n vuurpylwetenskaplike te wees om te besef die Bokke het ’n bonuspunt in hierdie wedstryd nodig as hulle die voorlopers, die All Blacks, wil inhaa. Daarom sal Du Preez se genialiteit en flinke diens agter die oond met groot vrug ingespan word en kan die fanatiese en raserige Nuwelandskare ’n hardlooprugby-skouspel te wagte wees – ongeag wat Meyer vooraf kwyt raak.

Die tweede verandering is die gebruiklike omruiling van Bismarck du Plessis, wat nou op die plaasvervangerbank sal sit, en Adriaan Strauss. Du Plessis was die eerstekeuse op haker in die vorige twee toetse in Australasië, maar is met ’n rooikaart afgestuur in die verloortoets teen die All Blacks. Dit het die Bokke se kanse in die wiele gery om in daardie toets hond haaraf te maak. Strauss is minder fisiek as Du Plessis, maar die Bokke speel ook teen ’n minder fisieke span. Sy bestendigheid, werkywer en skrum- en baldravermoëns is egter uitstekend en Meyer het klaarblyklik genoeg vertroue in hom om die lewe vir die Aussies moeilik te maak.

Suid-Afrika:

15 Zane Kirchner, 14 Willie le Roux, 13 JJ Engelbrecht, 12 Jean de Villiers (kaptein), 11 Bryan Habana, 10 Morné Steyn, 9 Fourie du Preez, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Flip van der Merwe, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira

Plaasvervangers: 16 Bismarck du Plessis, 17 Gurthrö Steenkamp, 18 Coenie Oosthuizen, 19 Juandré Kruger, 20 Siya Kolisi, 21 Ruan Pienaar, 22 Pat Lambie, 23 Jan Serfontein

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.