Bokke verloor teen beter Wallabyspan

springbok-logo croppedVir sowat twintig minute het dit gelyk of die Springbokke hierdie keer wóú rugby speel, maar toe het al die ou swakhede weer kop uitgesteek. Hulle het die toets in Brisbane 17-23 teen Australië verloor.

Die laaste kwart van die wedstryd het die Bokke wéér, soos nog elke keer in die ses toetse onder Allister Coetzee, van agter probeer terugveg en red wat te redde was. Die dure les van goeie besit, balle doelloos wegskop, die bal in besit verloor en veral strafskoppe afstaan, sal egter nou moet begin insink.

Nie dat daar veel aan gedoen kan word nie, want hierdie Springbokspan – al wen hulle ook hier en daar en selfs al verras hulle – het dit net eenvoudig nie.

Neem nou maar die nuwe senterpaar. Hulle het grootliks hul deel gedoen, op aanval en verdediging. Maar daardie ‘iets’, dinge wat deur afrigting tuisgebring word soos by die Goue Leeus, die Wallabies en die All Blacks, ontbreek.

Wanneer gaan die afrigtingspan die voorspelers daarop wys dat hulle uit die pad moet kom sodat die agterlyn nie in hulle vashardloop nie?  Hulle moet op dié vlak darem seker al weet wanneer om op die regte oomblik by die agterspelers aan te sluit, of hoe?

En hoeveel keer gaan spelers nog op die aanval bondel terwyl daar spasie buitentoe is? En sal ons skuins hardlopery nooit reggemaak kan word nie?

Terwyl vrae gevra word: het dit ooit – en dis iets wat die afrigters moes optel – by die Bokke opgekom om nie op die rotsvaste en baie gevaarlike Israel Folau te skop nie maar eerder na die vleuel waar Quade Cooper gereeld op die verdediging stelling ingeneem het?

Die Bok-voorspelers is as eenheid deur die Wallabies in die los oordonder. Húlle het die bal gehad om die speelwerk mee te doen. Australië het dus meer geleenthede geskep, en vir lang rukke op die Springbokke se doellyn geboer.

Dit het by die Bokke nie aan vasberadenheid kortgekom nie en hul verdediging was om die afbreekpunte goed; ʼn pluimpie as mens die oormaat besit van die Wallabies in aanmerking neem.

Daar was egter te veel kommunikasie-tekortkominge wat gapings tot gevolg gehad het wanneer die Wallabies die bal wyer gespeel het, en albei die Wallabies se drieë het direk en indirek hierdeur gekom.

Die neerlaag het gekom teen ʼn uiters middelmatige Wallabyspan wat nietemin die oorwinning terdeë verdien het.

Die Bokke was binne drie minute 7-0 en na 18 minute 14-3 voor. Die eerste drie was na skitterende hanteerwerk en ondersteuning, hoewel daar ʼn vraag oor ʼn vorentoe aangee is en is deur Warren Whiteley afgerond.

Die tweede was ʼn baie goeie drie waar die regte opsies geneem is. Dit het gevolg nadat die Wallabies gelyk het of hulle feitlik verseker sou gaan druk. Adriaan Strauss het egter onderskep, laat loop en van hul eie 25 af het die Bokke gaan druk na ʼn slim skoppie van Elton Jantjies wat John Goosen laat optel het om deur te draf (14-3).

Teen rustyd was dit egter reeds net 14-13 vir Suid-Afrika met die Aussies ten volle in beheer.

Die Springbokke het die agterstand van 23-14 met hulle eerste punte in 50 minute laat krimp na ʼn strafdoel deur Morné Steyn (23-17).

Daarna was daar ʼn paar sporadiese Bok-aanvalle. Enige kanse om die wedstryd te beklink, is egter nogmaals deur dissipline en hanteerwerk gekelder.

Puntemakers –

Australië (13) 23: Drieë: Alan Coleman, Bernard Foley. Doelskoppe: Foley 2. Strafdoele: Foley 3.
Suid-Afrika: (14) 17: Drieë: Warren Whiteley, Johan Goosen. Doelskoppe: Elton Jantjies. Strafdoel. Morné Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Rugga007 ·

Wel, dis nie deesdae n kuns om teen die bokke te wen nie.

Lions ·

Baie dankie aan Coetzee, Stick (weet nie waar het hy naam gemaak in rugby nie) en Proudfoot. Julle ysters is besig om vinnig vordering te maak met ons rugby. Ons vorder baie vinniger van goed na sleg. Julle staatmakers!! Ek beslis nie ‘n kenner nie maar hulle kry mos groot geld om daai joppie te doen.

Bloues ·

Geen spelpatroon met geen leierskap en dom besluitneming het die Bokke gekos. Afrigter het geen idee van rugby brein nie. En Rassie het pad gevat. Hier kom gaos in ons rugby

dries ·

Wat gaan die all blacks met die bokke doen, ek dink hier gaan n lelike score wees.

Dewet ·

Eina eina. Tootie dink jy is nou klaar. Om n span te vat wat derde gekom het in WB en net met 2 punte te verloor teen die beste span en nou is ons so sleg. Tootie pak jou tas.

Brittz ·

Bokwagter ooo bokwagter Coezee waar gaan ons heen?????????

Johan ·

Wie is die springbokke? Die eer wat daar was om die groen en goud oor jou kop te trek is al jare nie meer daar nie.Begin om te kyk na ons provinsiale wedstryde. As die afrigterspanne nie by wedstryde is nie,dan sal net die sekuriteitswagte en spelers die stadion beman. Ag dis die ou storie…….

Lions ·

Mnr Coetzee weet nie wat hy sê nie. Vanoggend noem hy dat die span nou mooi saamspeel en mekaar vind. Na die verloor noem hy dissipline probleme. Nou wat nou. Moet ook nie sê die manne is nog te kort by mekaar nie. Aussies en Kiwis het dieselfde tydperk gekry vir voorbereiding. Hou op met verskonings asb. Ek is bevrees die Kiwis gaan vir ons lelik mors. Maar ons is mos op ‘n leerkurwe. Enigste vervlakste span wat net heeltyd moet leer. Worrd wakker Coetzee, Stick en Proudfoot. Miskien kan die Guptas help?

Ander Koos ·

Maar net die gevolg van politieke inmenging, voorskrifte en kwotas.

Reg ·

Siesstog- arme bokke.

Afrigtingspan het groot besluite om te neem.

Voel jammer vir hulle volgende week.

Jan ·

Enige hasbeen met integrity sal self terugstaan vir meriete spelers. Duidelik verstaan Coetzee nie die woord Meriete nie. Coetzee moet dalk die beste springbok senter”Matfield”laat invlieg. Miskien moet Coetzee n kompetiesie loods onder skoolseuns vir n plan A en B
” In die land van die blindes is eenoog koning

Jan ·

Coetzee en sy hulpafrigters het nie die vaagste benul wat hulle doen nie. Om hasbeens voorkeur te gee bo meriete spelers te ignoreer bewys sy kennis.
Arogansie by springbok afrigters is skynbaar die norm.

Arie ·

Ek het die Ausies nog nooit so sleg gesien nie en van die boerbokke sê ek maar niks hulle of die afrigters is dit nie werd nie. Die minister van sport is seker al ou wat gelukkig is

Jannie Meyer ·

Maar min silwerware in WP se uitstalkas met Coetzee en Proudfoot aan die stuur. Johan Ackerman het ‘n klomp onbekende spelers tot ‘n wenspan gebrei en selfvertroue gegee. Jantjies en AC kon mekaar nie vind by die WP nie. Daardie treurmare duur voort. Elton se selfvertroue kwyn onder hom. As Eddy Jones ‘n klomp swak Engelse na ‘n paar wedstryde in ‘n omgesukkelde span kan verander waarom nie ons afrigters nie?

Gerhard ·

“Waarom nie ons afrigters nie” vra jy…. Wel die antwoord is eenvoudig. Ons hét nie afrigters nie, ons het poletieke aanstellings

Uiltjie ·

… en die All Blacks lek hul Lippe af vir n lekker stuk boksteak!!!

Arie ·

Ek moet darem sê ons vaar teen die spelers uit wat nie eintlik reg is nie. Ons moet begin by die ou wat homself minister van sport noem, dan bestuur wat daar nie is nie en dan die kamtige afrigters. Nie een van daai spelers is regtig so sleg as wat dit lyk nie, wie se gees kan reg wees In so politieke gemors nie

Willie ·

Die liewe verdomde regering wat in sport inmeng vernietig alles,dakkie ek en my familie is klaar met Suid Afrikaanse Rugby,ek is en wil nie verder deel van Suid Afrikaanse Ruby wees nie,van my sal ek nie sent verder in rugby bele nie.

Herman Goosen ·

Derde wereld bestuur het al menige goeie talent tot niet laat gaan. Geen afrigter sal die “Springbokke”kan regruk met keurders en bestuur wat polities korrekte besluite neem instede van sports korrekte besluite nie. Raak maar gewoond aan hierdie stellings van “ons leer nog” en “dinge begin reg te kom”en “ons werk aan ‘n lengtermyn plan” Hierdie stellings is tipies van derde wereld onbevoegde bestuur wat hulle onbekwaamheid probeer regverdig.

SPRINGBOK RUGBY IS GEDOEM VIR DIE VOLGENDE DRIE JAAR – Verkeerde besluite kelder potensiaal.

Voorlaaier ·

Kyk ni meer rygby ni!.. Ons nasionale rolbal span gee my baie meer plesier!….

Marius du Plessis ·

Ek mors sedert die eerste toets teen Ierland op Nuweland nie meer my tyd met die gemors wat opgedis word nie. Onderwater hokkie is meer opwindend!

Frans C ·

Die gesukkel het sy oorsprong in die gedagte dat sportspanne die nasionale demografie moet verteenwoordig, ook in afrigting. Solank dit ‘n voorvereiste is sal sport altyd ,maak nie saak in watter vorm ook al nooit tot sy reg kom nie.

Voeg daarby ‘n afrigter wat nie op superrugbyvlak die mas kon opkom nie, omdat hy ook fosielrugby daar afgerig het en jy het ‘n resep vir die totale vernietiging van Springbokrugby.

Nadat ek die naweek gesien het hoe die All Blacks die Poemas wat ons geklop het verwoes het dink ek, ek sal van nou af rolbal volg wat minder senutergend is.

Johan ·

Die rugby was planloos, maar veroorsaak deur al die inmegging. Daar is ongelooflike spelers in die span en dan n paar talentvolle spelers. Talentvol help nie as jy teen die beste in die wereld moet meeding nie . Rugby is span sport so die wat nie hulle kant bring breek die bestes se spoed. Daar is meer as genoeg wereld gehalte spelers in SA. Hulle moet net gekies word. Johan Ackerman moet help afrig. As Jantjies moet speel sit hom op binne senter en Goosen op losskakel.

Ben ·

Alistair en sy Bokke
Dit is jammer dat die mense in Suid-Afrika so hard op julle is. Hulle besef nie julle doelwit en strategieë nie. Dit is nie binne elke span ter wêreld se vermoë om julle doelwit – Die meeste wedsrtyde in ‘n ry te verloor ! – te klop nie. Ek glo in julle. Julle sal die rekord een van die dae agter julle name kan skryf. Sterkte manne, julle is mooi op koers. Julle is sonder twyfel die trots van Suid – Afrika ! Julle name is op bykans elke rugbykenner se tong!

Ek verstaan julle gaan na die huidige uitmergelende toer eers bietjie rus. Julle moet asseblief nie oefen nie. Julle moet asseblief niks doen, TV kyk en hope hamburgers en Coke geniet. Ons mag nie die aanslag op die rekord in die wiele ry nie.

Ek hoor julle tuis wedstryde is op publieke aandrang verskuif na die dorpsvelde van Amersfoort en Alldays. Die Rugbyraad wil Springbokverloor Rugby aan die platteland bekendstel en die kinders wil ook graag sien hoe dit gespeel word.. Julle kan dalk so ‘n oefen wedstrydtjie teen Alldays se derdes inpas. Hulle wen altyd die fight. Dit sal julle ook goed doen en laat fokus op die rekord!

Kom tog gou huistoe.

Stef ·

Waar begin n mens al waar ek jammer voel vir span is politieke inmengery verder boys is dit julle as spelers, aftigters, bestuur (SARU), die minister van sport en die regering se sirkus. Spelers basiese vaardighede moet jy darem al op die vlak he? Coaching staff daar moet darem n plan wees of n gameplan hulle noem dit plan A en B. Bestuur julle is verantwoordelik vir die besigheid. Minister van sport jy is soos die voorsitter van n klub span. Regering hierdie bok span het ons al in die reenboog land al baie trots gemaak maar ongelukkig julle almal mislik en julle is die klub span in SA waar ander spanne hulle lippe aflek vir 5 liga punte. Ek is nie upset oor die verloor nie want ek is klaar met bok rugby.

Corrie Bezuidenhout ·

Het ons mense nie meer breinkrag nie dit is nie politiek nie maar die ouens op die veld en behepteid om weg te doen met tipiese springbok rugby wat ons benadeel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.