Bokke op reis terwyl Poemas aan hul skrum werk

Daniel Hourcade – skrum nou sy fokus (Foto infobae.com)

Vir die Argentyne is die skrum steeds die maatstaf waaraan hulle benewens die uitslag gemeet word, en net so belangrik as vir die Springbokke in vervloë dae. En Saterdag se skrum-treurmare in die Baai sal reggestel word.

Só beloof die Poemas se afrigter Daniel Hourcade nadat sy span letterlik in verlede week se eerste Rugbykampioenskap-toets uitmekaar geskrum is.

Terwyl Hourcade toegee dat sy span in feitlik elke aspek deur die Bokke oorheers is, is dit die skrumwerk wat die seerste maak. Om vyf strafskoppe in die faset af te staan, het die Poemas op die agtervoet gedwing, sê hy. (En dit het hulle moontlik ook oor hulle eie vermoëns in die ander fasette laat twyfel.)

Hourcade glo sy span kan in Salta wen as hulle die skrum kan regruk. Hy beklemtoon ook die feit dat sy span beter na hulle besit moet omsien. Daar is in die wedstryd 21 balle van die Poemas omgekeer en net agt van die Bokke.

Die Argentyne het net eenvoudig nie genoeg besit gehad om hulle stempel af te druk nie, maar dit is waarskynlik dat die Poemas die agterste driehoek van Suid-Afrika met hoë skoppe sal peper. Hulle groter vleuels, glo hulle waarskynlik, sal in die lug die voordeel teen die kleiner en ligter Courtnall Skosan en Raymond Rhule hê met Andries Coetzee wat, ondanks sy veilige spel in die lug, ook kleiner en ligter as die Poemas is.

♦  Die Bokke se oefenprogram is so effens deur Dinsdag se gure weer in Port Elizabeth ontwrig. Hulle is gewaarsku dat wind en reën hulle oefening Dinsdag in die wiele kon ry en het toe Maandagaand na Johannesburg vertrek waar hulle Dinsdag hul voorbereiding op eie bodem afgesluit het.

Die Springbokke vlieg vroeg Woensdag uit Johannesburg via Sao Paola in Brasilië na Buenos Aires, waar hulle eers laat Woensdag aankom. Hulle vertrek dan Donderdag van daar af na Salta.

Hulle sal seker Donderdag nog in Salta ʼn oefening kan inpas en dan Vrydag die kapteinsoefening hê.

Twee van die vier dae voor die afskop word dus aan reis bestee – glad nie ideaal nie. Die effense pluspunt is egter dat hulle na die weste vlieg, wat hulle nie soveel sal terugsit as ʼn vlug na die ooste toe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.