Bokke vir twee weke in kwarantyn

Die Springbokke speel op 12 September teen Australië. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke vlieg Donderdag na Australië waar hulle op 12 September hul eerste wedstryde weg van die huis sedert die Wêreldbeker-eindstryd in 2019 sal speel.

Die Suid-Afrikaners sal egter vir twee weke in kwarantyn moet wees voordat hulle hul Rugbykampioenskap-veldtog in Queensland kan hervat.

Siya Kolisi-hulle sal gedurende die tydperk toegelaat word om te oefen en hulle mag ná die 14 dae vrylik rondbeweeg.

“Die kwarantyn van twee weke beteken dat ons vir net minder as ses weke sal toer. Tog sien ons daarna uit om weer ’n normale lewe te ervaar ná anderhalf jaar van Covid-19-inperkings in Suid-Afrika,” het Jacques Nienaber (afrigter) gesê.

“Dit sal beslis help dat die spelers geestelik sterk is wanneer hulle weer op die veld verskyn.”

Volgens Brendan Morris, Sanzaar se uitvoerende hoof, is die moontlikheid aanvanklik ondersoek om die oorblywende wedstryde in Suid-Afrika of Europa te speel, maar daar is uiteindelik op Queensland besluit.

“Ons is baie opgewonde oor hierde unieke formaat waar van die wêreld se beste spelers in dubbeldoor-naweekkragmetings in Queensland te siene sal wees,” het Morris gesê.

Nienaber se span sal op 25 September in hul 100ste wedstryd teen die All Blacks op die Country Banks-stadion in Townsville speel. Die Nieu-Seelanders het juis vandeesweek hulde aan Sean Fitzpatrick se “Incomparables”van 1996 gebring; die eerste Nieu-Seelandse span om ’n reeksoorwinning in Suid-Afrika te behaal.

En daar word weer eens met afwagting na die komende wedstryde uitgesien. Die All Blacks is die beste aanvallende rugbyspan ter wêreld, terwyl die Springbokke die beste is om spelers plat te duik wat met die bal hardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.