Bokke vs Japan: Lynstaanroepe verander oor Afrikaans

Kotaro Matsushima is in Suid-Afrika gebore. (AP Photo/Christophe Ena).

 

Moenie verbaas wees as die Japannese rugbyspan jou verstaan wanneer jy Afrikaans met iemand praat nie, hulle kén die soetste taal.

Die gasheerland van die Wêreldbeker-rugbytoernooi se begrip van Afrikaans het die Springbokke se afrigterskorps genoop om hul lynstaanroepe vir Sondag se kwarteindstryd te verander.

“Dit is normaalweg tot ons voordeel wanneer ons Afrikaans met mekaar op die veld praat, want ons teenstanders verstaan dit nie,” het die Springbok se hulpafrigter, Mzwandile Stick, gesê.

Maar drie van die Japannese spelers het al professionele rugby in Suid-Afrika gespeel. Lappies Labuschagne, Wimpie van der Walt en Kotaro Matsushima is waarskynlik heel vertroud met die lirieke van “Loslappie” en “Sarie Marais”.

“Nou het Japan egter vir Lappies, Wimpie en snaaks genoeg hul vleuel, Matsushima, wat in Suid-Afrika gebore is.”

Labuschagne het Superrugby saam met van die Bokke, soos Willie le Roux, gespeel en hy was selfs deel van die Springbokgroep in 2013. Hy het egter nie ’n toets vir Suid-Afrika gespeel nie en in 2016 na Japan verhuis.

Hy het sy stempel onmiddellik op Japannese rugby afgedruk en ná ’n hele paar uithalervertonings vir die Kubota Spears en die Sunwolves, het hy die Brave Blossoms in hul Wêreldbeker-wedstryde teen Ierland en Samoa aangevoer.

Hy het tot dusver die naasmeeste duikslae (56) in die toernooi uitgevoer.

Dan het Van der Walt sy Superrugby-avontuur saam met die Kings en die Bulls aangepak, maar ook na Japan verhuis waar hy vir die NTT Docomo Red Hurricanes en die Sunwolves gespeel het.

Die storie van die blitsige Matsushima is egter ’n interessante een.

Hoewel sy ma van Japan is, is sy pa ’n Zimbabwiër en hy is in Pretoria gebore. Hy het vir die Haaie provinsiale rugby in 2013 gespeel, maar het ’n kontrak met die Suntory Sungoliaths in 2014 onderteken.

Hy het tans die meeste drieë (5), saam met Wallis se Josh Adams, in die toernooi gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frans C ·

Die onderskrif van die foto tov Matsushima en die berig is teenstrydig.Volgens berig gebore in Pretoria volgens onderskrif in Japan.

J ·

En Lappies Labuschagne is die broer van Aussie Toets kolwer Marnus Labuschagne.

Anton Smith ·

Hou vas Suid-Afrika!!!Moet asb.nie Saterdag julle wedstryd teen Japan verloor nie!!!Rugby is n snaakse spel!!!Onthou die hele Japan gaan agter hulle land staan!!!Go BOKKE!!Wys hulle!!

Hulle sal nie ·

Hulle sal nie Saterdag verloor nie… Wel dalk Sondag.

Viss ·

Hoekom moet daar lynstaan roepe wees,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,gaan sê net vir die hakker in sy oor op wie hy moet gooi,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Anton Smith ·

Hoeveel nie-Japanse gebore rugbyspelers is ingesluit in die Japanse span??Hoeveel Oud-All Blacks en ook ander lande se spelers is in hierdie span ingesluit?Nee,ons is nie bevooroordeeld nie!!!Kan dit nie miskien Sondag n verskil maak nie??Kan die insluiting van hierdie sogenaamde spelers geregverdig word??Kan dit nie die verskil beteken tussen wen of verloor nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.