Bokke waarskynlik derde in reeks ondanks ‘prosesse’

In hierdie dae waar afrigters die proses eerder as ʼn oorwinning propageer, sal dit darem gaaf wees as die Bokke se proses goed is en die oorwinning van Australië teen Argentinië nie gebeur nie.

Die Bokke is voor die laaste ronde van die Rugbykampioenskap Saterdagmiddag teen die All Blacks op Nuweland (17:05), drie punte voor die Wallabies op die puntelys. Die Wallabies speel Sondagoggend (00:30) teen die Pumas in Mendoza.

Die Bokke, met 13 ligapunte, se negatiewe punteverskil is 17, dié van die Wallabies (10 ligapunte) net een.

Dit lyk dus, goeie prosesse of te nie, of die Bokke vanjaar weer derde op die Rugbykampioenskap se puntelys sal eindig – dieselfde as verlede jaar. Want die Wallabies, selfs teen die Poemas wat tuis moeilik kan wees, behoort Sondagoggend SA tyd te wen.

Daar is natuurlik ander permutasies, soos dat die Bokke binne sewe punte van die All Blacks op die telbord moet eindig en vier drieë druk om twee ligapunte te verdien;  en dat die Wallabies dan met minder as vyf ligapunte moet wen of teen die Poemas moet verloor.

♦  Die Poemas moet tuis egter nie afgeskryf word nie. Hulle is aggressief, het heelwat potensiaal en kan ʼn span ontsenu soos hulle verlede week na die eerste 26 minute teen die All Blacks gedoen het.

Die Wallabies het egter net daardie ekstra deurdringingsvermoë; ook groter spelbrekers soos Israel Folau, Will Genia en Kurtley Beale; en hulle speel met ʼn meer afgeronde soort spelpatroon.

As Bernard Foley kan dikteer soos hy jare lank al doen, behoort Australië te wen.

En dan is al die suksesvolle Springbokprosesse al wat hulle in die reeks sou bereik het …

Spanne –

Argentinië
15 Joaquin Tuculet, 14 Matias Moroni, 13 Matias Orlando, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Emiliano Boffelli, 10 Nicolas Sanchez, 9 Martin Landajo, 8 Tomas Lezana, 7 Javier Ortega Desio, 6 Pablo Matera, 5 Matias Alemanno, 4 Marcos Kremer, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustin Creevy (kaptein), 1 Lucas Noguera Paz. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Santiago Garcia Botta, 18 Enrique Pieretto, 19 Benjamin Macome, 20 Leonardo Senatore, 21 Gonzalo Bertranou, 22 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Santiago Cordero.

Australië
15 Israel Folau, 14 Marika Koroibete, 13 Tevita Kuridrani, 12 Kurtley Beale, 11 Reece Hodge, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Jack Dempsey, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Sekope Kepu, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Stephen Moore, 17 Tetera Faulkner, 18 Allan Alaalatoa, 19 Rob Simmons, 20 Lukhan Tui, 21 Nick Phipps, 22 Samu Kerevi, 23 Henry Speight.

Afskop: 00:30 (Sondag)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.