Bokke wag met spanaankondiging

Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Springbokke het besluit om eers te wag voordat die span vir die komende wedstryd teen Georgië bekend gemaak word.

Dit kom nadat Lood de Jager positief vir Covid-19 getoets het en die hele span as voorsorgmaatreël in isolasie geplaas is.

“Die hele span is Dinsdagoggend getoets en sal in isolasie bly totdat die uitslae en die meegaande aanbevelings van die mediese adviesgroep ontvang is,” het SA Rugby in ’n verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig die span moes einde verlede maand ook ’n oefening weens Covid-19 kanselleer en isoleer nadat Sbu Nkosi, Vincent Koch en Herschel Jantjies se toetsuitslae positief teruggekom het.

Intussen hang daar ook ’n wolk van onsekerheid oor die Britse en Ierse Leeus se toerwedstryd teen die Bulls in Pretoria. Volgens mediaberigte het ’n paar van die tuisspan se spelers positief vir die virus getoets.

Die Springbokke het verlede Vrydag in hul eerste wedstryd in amper twee jaar vir Georgië met 40 – 9 op Loftus Versfeld in Pretoria geklop.

Jacques Nienaber (afrigter) het ná die kragmeting gesê dat daar nog harde werk op die span wag voor die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus op 24 Julie begin.

“Jy kan ook net soveel dinge op die oefenveld doen, maar die têkkels was kliphard (in die eerste wedstryd teen Georgië) en niemand het teruggehou nie. Ons moes daarby aanpas en ek is tevrede met die ouens. Volgende week sal ons in elke afdeling moet verbeter, maar hierdie vertoning was seker te verwagte ná ’n toetsrugby-afwesigheid van 20 maande,” het Nienaber gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.