Bokke weer in isolasie ná Lood positief toets

Argieffoto van Lood de Jager (Foto: Martin BUREAU / AFP)

Die Springbokke was Maandag genoop om hul oefensessie te kanselleer nadat die Springbok-slot Lood de Jager positief getoets het vir Covid-19.

Die hele span is intussen as voorsorgmaatreël in isolasie geplaas weens die noue kontak wat De Jager met verskeie van sy spanlede gehad het.

SA Rugby sê verdere polimerasekettingreaksie (PCR)-toetse vir Covid-19 sal nou gedoen word terwyl die span se mediese raadgewende groep (MAG) geraadpleeg word. SA Rugby sal later nog inligting beskikbaar maak sodra ’n hersiening van toetse en verdere toetse gedoen is.

Maroela Media het vroeër berig die span moes einde verlede maand ook ’n oefening weens Covid-19 kanselleer en isoleer nadat Sbu Nkosi, Vincent Koch en Herschel Jantjies se toetsuitslae positief teruggekom het.

Die Springbokke het Vrydagaand hul eerste toets sedert die Wêreldbeker-eindstryd in Japan met 40 – 9 teen Georgië gewen.

Die Springbokke moet Vrydag weer teen Georgië speel, voordat die toetse teen die Britse en Ierse Leeus op 24 Julie begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Ek is self lief vir rugby maar kan iemand my asseblief inlig oor hoekom die meeste wedstryde nou in die provinsie gespeel word met die hoogste covid delta gevalle in die land, selfs die Sharks moet van Durban vlieg om in Johannesburg teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Ek kan verstaan dat SARFU nie die toergroep kruis en dwars oor die land wil vlieg nie maar hier is duidelik nie ‘n plan B nie.

Hendrik Marthinus ·

Moes gewag het vir Hurd immunity voor Enige sport etc gespeel mag word
Wat vir publiek geld moet mos vir almal geld
Stuur Leeus terug van waar Hulle kom

Susan ·

Hoe is dit moontlik dat die Springbok en provinsiale rugby wedstryde nog voortgaan maar alle skoolsport is gestaak? Niks maak eintlik regtig sin met meestal belaglike regulasies rakende die covid, staan en sit meter en ‘n half by lughawens, maar op vliegtuig sit die passasiers teen mekaar ingeryg. Dalk val die virus ook die brein aan, veral die van besluitnemers oor wet orde en regulasies?

Wim ·

Rugby val binne die propaganda raamwerk so dus sal dit lugtyd kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.