Bokke weer nr. 1 ná 10 jaar

Die beste ter wêreld. Nou om die beste te bly. (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Vir die eerste keer sedert 16 November 2009 is die Springbokke weer die beste span op aarde. Nie net omdat hulle met die Willam Webb Ellis-trofee van Japan huiswaarts keer nie, maar ook omdat die slimkoppe by Wêreldrugby se sakrekenaars wys dat die Bokke tans ’n baie gedugte eenheid is.

Volgens die jongste wêreldranglys beklee die Bokke die eerste plek met 94,19 ranglyspunte – hul meeste nog.

In die tweede plek is die All Blacks met 92,11 punte, gevolg deur Engeland en Wallis.

Nou wat is die volgende groot inskrywing in die Bokke se kalender? Vir Rassie Erasmus is die antwoord op dié vraag eenvoudig: Die Britse en Ierse Leeus-toer in 2021.

“Toe ek die leisels so twee jaar gelede oorgeneem het, was dit presies 618 dae tot ons eerste wedstryd in die Wêreldbeker-rugbytoernooi en ons het tóé reeds begin om strategieë te beraam om die trofee te wen,” het Erasmus gesê.

“Dit is nou ook net meer as 600 dae vóór die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika arriveer en ons wil nou al vir hul toer beplan, sowel as vir die Rugbykampioenskap en plaaslike kompetisies soos die Superreeks en die Curriebeker.”

Volgens Erasmus is bestendigheid die wagwoord vir die toekoms. Hy het gesê dat die Springbok-bestuur by afrigters soos Eddie Jones en Warren Gatland kan kers opsteek – hulle het op ’n gereelde basis wedstryde gewen. En dít is wat Suid-Afrika nou moet doen.

“Ons was swak in 2018 – ons spel was ongelooflik wisselvallig – maar vanjaar het ons 12 wedstryde gespeel en net een verloor. Ons is dus weer besig om op die bestendigheid-bus te klim.”

“Ja, ons het die Wêreldbeker gewen, maar wanneer ons volgende jaar ons eerste toets verloor, gaan die Wêreldbeker-avontuur reeds lank vergete wees. En dit is beslis nie waar ons wil wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tino ·

Onthou, hy is beide direkteur en hoofafrigter indiens by SARU. Ek neem aan hy verwys na die tye van aanstelling tot beide ampte en die hede afsonderlik.

Judge Dredd ·

Van volgende jaar kan ons weer uitsien na menige jare se verskonings van – “ons bou vir die volgende wereldbeker”.

LOL ·

@Judge Dredd; baie van ons sien uit na jou aftrede en/of begrafnis.

koos ·

Ons gaan daai woorde BAIE van die All Blacks af hoor! (En miskien ook van Johan de Jonge af!)

Siener ·

Stem saam. Rassie kyk op na die All Blacks met sy speech. Die Migty All Blacks sal maar koning bly. Die verskonings kom binne kort deur die ou bok ondersteuners. Bou span of weer die ref het gekroek storie

Mr M ·

Gun die Bokke wat hulle toekom ……. Awesome Final ????????????????????????????????????????

JohanL ·

Snaaks hoe ons Suid-Afrikaners uitgesonder word as diegene wat altyd die skeidsregter as verskoning voorhou. Natuurlik skep hierdie (Suid-Afrikaanse en Afrikaanse) forum daardie illusie, want dit is meestal SA ondersteuners wat hier kommentaar lewer. So ons gaan tog nie ‘n Engeland ondersteuner sommer hier hoor kla nie.

Ek het egter ‘n vriend wat in Nieu-Zeeland woon wat ‘n Kiwi ondersteuner is en ek lees ook maar sy insette op sosiale media waar skeidsregters ook maar bevraagteken word.

En dan natuurlik is die Kiwi-ondersteuners wat in SA woon ook nie onskuldig nie. Ek het TWEE sulke vriende en ek hoor ook maar die skeidsregter storie vanuit hul monde.

So ek dink meeste rugby ondersteuners “haal maar die skeidsregter uit” by tye. Maak nie saak watse span jy ondersteun nie.

Weer geluk aan Rassie en die Bokke. Lanklaas dat ons Bokke nommer een was. Weer interessant dat die tabel en sy 4 top plekke ‘n refleksie is van die spanne wat in semi-finale gespeel het. Ek skud ook maar my kop soms oor die sg “punte-tabel”, maar lyk my daar is tog dalk net iets in om te lees.

Nasiebou ·

Ander ouens speel die rasse kaart bokke speel die Rassie kaart en wen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.