Bokke: wen is nie onderhandelbaar nie

Wen is ononderhandelbaar. En dit is soos dit hoort, want dit is immers ʼn toetswedstryd waar jy vir jou land speel.

Maar benewens die wen van die toets Saterdag teen Frankryk op Loftus, moet daar deur die onervare Springbokke gewys word dat die weke se voorbereiding – van verlede Maandag af en ook met die oefenkampe – wel waarde toegevoeg het.

Hulle moet bewys dat Allister Coetzee se waagstuk met ononervare spelers sy loopbaan kan red en sommer ook dat die oënskynlike niksseggende gepraat meer om die lyf het as blote praatjies.

Dit móét eenvoudig ʼn beter vertoning as verlede jaar wees, selfs al wen Suid-Afrika. Lelik wen is wel wen, maar die vertroue van die span en ondersteuners moet ook met gehalte-spel herstel word.

Daar is geen verskoning vir die afrigter Allister Coetzee en sy afrigtingspan as dit nie gebeur nie.

Daar is natuurlik die moontlikheid dat van die nuwelinge se senuwees hul vertonings nadelig mag beïnvloed. Hulle sal nie die eerste Bokke wees met wie dit in ʼn eerste toets gebeur nie.

Dit is egter vir die keurders geen verskoning nie en moes by die spankeuse in berekening gewees het.

Hulle het ook ʼn nuwe kaptein.

Gaan die Bokke hardloop soos Nieu-Seeland en die Junior Bokke Donderdag gewys het hulle kan doen? Nee. In elk geval nie blindelings nie al is daar sewe Lions in die span.

Gebalanseerde rugby, het Coetzee die afgelope tyd beklemtoon, is wat die Bokke wil speel.

Kan hulle?

Foutvry sal dit nie wees nie. Maar solank as daar durf en struktuur en ʼn wen aan die einde is, behoort almal behalwe die suurste onder die suurknolle egter gelukkig te wees.

Daar moet eenvoudig aanvaar word dat Suid-Afrika nie die rugbykrag van weleer is nie en dat weer daarheen gebou moet word. Saterdag moet hierdie boustene eenvoudig behoorlik gemessel word.

Ja, daar moet geduld met verwagtinge wees, maar die geduld is na verlede jaar op …

Die Franse bou ook, maar begin met die voordeel van ʼn veel meer gevestigde span. Hulle het nog selde in Suid-Afrika as gunstelinge aangekom, maar was met ʼn uitsondering hier en daar altyd uiters gedugte teenstanders.

Dit sal Saterdag seker weer so wees.

Hulle aggressie, vlugvoetigheid en flair wanneer die geleentheid hom voordoen, kan die jong span ontsenu waar die 31-jarige Beast Mtawarira die oudste is.

Sy 87 toetse is ook die meeste met Eben Etzebeth (54) en Jan Serfontein (26) wat na Beast die meeste ervaring in die beginspan het.

Dit is die gevolg van kombinasies, soos op senter waar Jesse Kriel en Serfontein saam speel; by die lynstane waar Franco Mostert en Malcom Marx hierdie faset foutvry kan maak; en by die skakelpaar waar Francois Hougaard op die bank moet sit om Elton Jantjies saam met Ross Cronje te laat speel.

Ook op heelagter, waar Andries Coetzee darem vir Courtnall Skosan in die toetslose agterste driehoek as bondgenoot het.

Goeie spelers, almal op verdienste daar. Maar is die tikkie eraring wat afgestaan is nie ‘n waagstuk  nie?

Suid-Afrika
Andries Coetzee, Raymond Rhule, Jesse Kriel, Jan Serfontein, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Warren Whiteley (kapt.), Oupa Mohoje, Siya Kolisi, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Beast Mtawarira. Bank: Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Coenie Oosthuizen, Pieter-Steph du Toit, Jean-Luc du Preez, Francois Hougaard, Frans Steyn, Dillyn Leyds.
Frankryk
Brice Dulin, Yoann Huget, Henry Chavancy, Gaël Fickou, Virimi Vakatawa, Jules Plisson, Maxime Machenaud, Louis Picamoles, Loann Goujon, Yacouba Camara, Yoann Maestri (kapt.), Julien le Devedec, Uini Atonio, Clément Maynadier, Jefferson Poirot. Bank: Camille Chat, Eddy Ben Arous, Mohamed Boughanmi, Bernard le Roux, Kévin Gourdon, Baptiste Serin, Jean-Marc Doussain, Vincent Rattez.

Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland).

Afskop: 17:00.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Darius Els ·

Op meriete gekies se die berig!
Dan is ek seker die bevelvoerder van die sending na Mars,op my 72 jr.
Regstellende flou bokkies met n redeployed afrigter.
Onthou iemand n vorige floubok afrigter wat vir n afrikaanse blad in 2009 gese het,”ja ek steun die cANCer en dit het niks te doen met julle nie” .Soveel van n onpartydige afrigter gewees!
En toe hulle half eindstryd van wereldbeker uitval ,TOE is die skeidregter dam sleg ,man

Jan ·

Laat ons nou maar vir eens en vir altyd die naam verander. Springbokke werk nie meer nie, dis karkasse was speel. Proteas is blomme, wie wil hulle op die veld sien draf. Wat van ons nasionale vis, kom ons vrander die naam na Galjoene. Ek sien juis MTN gaan hulle nou borg, dus die MTN Galjoene.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.