Springbokke wen met ‘n geploeter

Menige rugby-ontleders, die uwe inkluis, het vandeesweek voorspel dat vandag se Rugbykampioenskap-wedstryde dieselfde wenners en verloorders sou oplewer terwyl die telbord effe anders sou lyk as laas naweek.

Oor eersgenoemde was ons in die kol, maar oor laasgenoemde sal daar hard kop gekrap word. Die Bokke se geploeter teen ’n weliswaar begeesterde Poemaspan om uiteindelik en waarskynlik onverdiend met 22-17 te seëvier, was egter heeltemal onverwags.

Morné Steyn se akkurate skopvoet was feitlik al wat tussen die Poemas en ’n historiese eerste oorwinning oor Suid-Afrika gestaan het. Hy het met vyf strafskoppe en een doelskop geslaag. Dit was die eerste keer sedert 2009 wat die Bokke op buitelandse bodem in die Rugbykampioenskap (voorheen die Drienasies) kon wen.

Die Poemas se sterte was orent in die eerste helfte nadat die flank Juan Manuel Leguizamon vroeg gaan druk het. Hy het onverwags om die steelkant van ’n lynstaan gebreek, Bjorn Basson en Duane Vermeulen minagtend weggestamp en met die hulp van sy medevoorspelers oorgedryf. Die Argentynse kaptein, Felipe Contepomi, het die twee ekstra punte bygevoeg: 0-7.

Die Bok-skrum het kort daarna die Poemas laat oortree en Morné Steyn het die Bokke met ’n strafdoel op die telbord gekry. Helaas is die Bokke daarna onkant betrap en Contepomi se sekure skopvoet het die verskil na 10-3 gerek.

Hierdie voorsprong is uitgewis toe Basson in die hoekie oorgeduik het nadat JJ Engelbrecht twee verdedigers getrek en net betyds ’n lang aangee na hom gestuur het. Steyn het dit verdoel: 10-10.

Hoewel die Bokke se verdediging rotsvas was, het die Poemas duidelik hul huiswerk gedoen en met meer selfvertroue, agressie en flair gespeel. Hulle het boonop hierdie week ’n antwoord vir die Bokke se verwoestende dryfmaalbewegings gehad en meer in die Bokke se helfte van die veld gespeel.

Die Poemas se Marcelo Bosch het sy span se neuse weer voor gekry toe hy Jannie du Plessis en JJ Engelbrecht se grepe ontwyk het om oor te duik. Contepomi het verdoel en die punteverskil was weer sewe: 10-17. Steyn het die laaste punte van die eerste helfte met ’n langafstand-strafdoel aangeteken en die rustydtelling 13-17 te maak.

Steyn het vroeg in tweede helfte ’n strafdoel behaal en die Poemas se voorsprong tot ’n enkele punt laat krimp. Daarna was dit naels kou soos wat die Bokke als probeer het om die voortou te neem, maar die Poemas se verdediging en die Bokke se eie foute het hul pogings gefnuik.

Wat sekerlik die meeste ergernis in Suid-Afrikaanse geledere veroorsaak het, is die Bokke se doellose skoppe wat regstreeks uit was of oor die doellyn gerol het. Daarenteen het die Poemas hul balbesit jaloers gehou, fases gebou en behendig aangeval.

Die Poemas is met tien minute oor in hul eie kwartgebied onkant betrap en Steyn het die lang verwagte strafdoel oorgeklits om die Springbokke vir die eerste keer te laat voorloop: 19-17. Die Poemas het in die doodsnikke die losskrum ineen laat stort en Steyn het die laaste strafdoel deur die pale gejaag om die paniek te verlig.

Die volgende ronde van die Rugbykampioenskap vind eers oor twee weke plaas wanneer Suid-Afrika die Wallabies in Brisbane aandurf en die Poemas die All Blacks in Hamilton ontmoet.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.