Bokke wil bordjies in Cardiff verhang

Die Springbokspan vir vandag se wedstryd teen Wallis. Foto: Twitter via Springbokke.

Die Springbokke het Wallis laas op 9 November 2013 in Cardiff geklop. Jean de Villiers, Bismarck du Plessis en Fourie du Preez se drieë het toe gesorg dat Heyneke Meyer se span die kragmeting met 24–15 beklink het.

Sedertdien het die Springbokke vier agtereenvolgende wedstryde in die Walliese hoofstad verloor. Nodeloos om te sê, wil Siya Kolisi-hulle bitter graag die bordjies verhang.

Hoewel die Springbokke ook ’n paar keer aan die verloorkant in die afgelope Rugbykampioenskap was, het hul heldhaftige vertoning in die laaste toets teen die All Blacks weer vir die nodige momentum gesorg.

Tog weet Kolisi dat dit steeds g’n maklike taak is om Wallis op hul tuisveld te klop nie, selfs al is die Rooi Drake sonder die dienste van spelers soos Alun Wyn Jones en Ross Moriarty.

“Wallis is ’n baie sterk span en hulle sal ongetwyfeld vir die volle 80 minute rugby speel. Ek verwag juis om dié rede dat ons plaasvervangersbank ’n baie belangrike rol sal speel. Terselfdertyd sal ons hulle ook fisiek moet aanvat en nie punte op ’n skinkbord weggee nie,” het die Springbok-kaptein gesê.

Wayne Pivac, Wallis se afrigter, het vroeër gesê dat sy span dalk ’n meer avontuurlustige benadering as die Britse en Ierse Leeus teen die Bokke sal volg; hulle sal selfs in Jones se afwesigheid ’n gevaarlike span wees.

“Alun Wyn is ’n baie ervare speler en hy het al soveel dinge op die rugbyveld bereik, maar daar is steeds ander spelers wat hulle sal kan inspireer en sorg dat dinge reg op die veld uitgevoer word.”

Die Bokke se verdediging is egter hul sterk punt en in die afwesigheid van iemand soos Cheslin Kolbe sal Damian Willemse en Jesse Kriel hul storie moet ken om Josh Adams en Kie. weg van die doellyn te hou.

Die probleem is dat Willemse nog nie juis die wêreld aan die brand in die Springboktrui gespeel het nie, terwyl Kriel deesdae baie min speelkans kry.

Maar die Springbokke sal graag wil wen; Rassie Erasmus het immers gister sy 49ste verjaardag gevier.

Die wedstryd begin vanaand om 19:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Die mense hier gaan weer ‘n lekker dag hê. Skree saam met die kapenaars vir die all blacks. Veral as die black labels begin gesels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.