Bokke wil dié All Blacks-span fisiek oorheers

Die Springbokke het verlede week in die doodsnikke van die wedstryd teen Nieu-Seeland verloor. Foto: Twiter .

Daar word die afgelope ruk baie in die media oor die Springbokke se sogenaamde DNS geskryf. Baie rugbyliefhebbers is egter van mening dat “DNS” in Bok-taal vir “Doen Net Skoppe” staan.

Maar volgens Ox Nché is ’n fisieke aanslag die Springbok-antwoord op die vinnige tempo waarteen die All Blacks speel.

“Nieu-Seeland sal ongetwyfeld probeer om die bal op die veld rond te beweeg. Ons vaste fasette is baie goed, dus sal hulle probeer om ons juis daar onder druk te plaas deur die bal so gou as moontlik uit te kry en na ander spelers deur te gee,” het Nché gesê.

Die 26-jarige stut meen dat die Bokke voorlangs hul stempel sal wil afdruk, raak moet têkkel en vir die volle 80 minute met dieselfde dringendheid speel.

“Ons is ’n fisieke span en ons sterkpunte is ons voorspelerspel en verdediging.”

Die All Blacks het egter ’n gedugte span gekies wat vir die Bok-verdediging hoofbrekens kan besorg – Anton Lienert-Brown is saam met Sevu Reece in die agterlyn, terwyl Beauden Barrett en Brad Weber die skakelpaar is.

Joe Moody – die man wat beloof het dat die All Blacks beter in die komende toets sal skrum – is saam met Codie Taylor en Nepo Laulala in die Kiwi’s se voorry.

Indien die Nieu-Seelanders Saterdag wen, sal hulle al ses van hul kragmetings teen spanne van die Suidelike Halfrond gewen het; ’n tikkie statistiek wat vir Ian Foster (afrigter) breed laat glimlag.

“Ons het lesse uit verlede week se wedstryd teen die Springbokke geleer. Ons het nie die bal so goed opgepas as wat ons moet nie, terwyl ons vertoning in die losgemaal ook nie te waffers was nie. Ons is egter oorgehaal om hierdie naweek beter te speel,” het Foster gesê.

All Blacks: Jordie Barrett (heelagter), Sevu Reece (regtervleuel), Anton Lienert-Brown (buitesenter), David Havili (binnesenter), Rieko Ioane (linkervleuel), Beauden Barrett (losskakel), Brad Weber (skrumskakel), Luke Jacobson (agsteman), Ardie Savea (kaptein en flank), Akira Iona (flank), Scott Barrett (slot), Brodie Retallick (slot), Nepo Laulala (stut), Codie Taylor (haker) en Joe Moody (stut). Plaasvervangers: Asafo Aumua, George Bower, Ofa Tuungafasi, Patrick Tuipulotu, Ethan Blackadder, TJ Perenara, Richie Mo’ungu en Damian McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

HAHAHA

Androclus

Bokke wil dié All Blacks-span fisiek oorheers,met hulle skoppende skakelpaar hahaha

Jack

Go All Blacks on is agter julle.

Kobus

Mooi so Bokke. Oorheers voor en gee vir FAF om te skop. Nienaber het al swaaiende arms probeer om die DNS beginsel te verkoop. Net hy weet waarom dit nodig is.

Danie

Kyk manne. Reel nr1 is om die bal in hand te hou voordat julle die AB fisiek kan oorheers, en dit is baie onwaarskynlik.