Bokke wil vir Rennie sooibrand gee

Frans Steyn op die oorlogpad teen Australië. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke kon laas op 7 September 2013 vir die Wallabies in Australië klop toe hulle die toets in Brisbane met 38 -12 gewen het.

Nou, amper nege jaar later, sal die Suid-Afrikaners poog om die bordjies te verhang. En volgens Frans Steyn en Lood de Jager is die Bokke oorgehaal om met ’n spesiale vertoning teen Dave Rennie en sy span vorendag te kom.

“Ek dink ons het selfs in die Superrugby-dae meer in Australië as in Nieu-Seeland gesukkel. Gelukkig het ons nou ’n geleentheid om iets spesiaals hierdie naweek te doen. Dit sal beslis ’n groot prestasie vir die span wees want om een of ander rede is ’n sege in Australië nie ’n gereelde verskynsel nie,” het Steyn gesê.

De Jager het heelhartig met sy spanmaat saamgestem, terwyl hy ook opgewonde is oor die ondersteuning wat die Springbokke in Adelaide kan geniet.

“Hier is baie Suid-Afrikaners, dus sal daar toeskouers wees wat ons ondersteun. Dinge is beslis baie anders as wat ons verlede jaar tydens die Covid-19-pandemie ervaar het en hopelik sal daar Saterdag baie toeskouers wees.”

Jimmy Stonehouse – die Pumas se hardebaardafrigter – het vroeër aan Maroela Media gesê dat die Springbokke se voorspelers die nodige grondslag vir ’n oorwinning kan lê. As Suid-Afrika se voorspelers op alle suiers vuur, kan hulle beslis die Wallabies sooibrand gee.

“Suid-Afrika het ’n baie goeie pak voorspelers wat oor die vermoë beskik om ander spanne te oordonder,” was die Curriebeker-wenafrigter se woorde.

Nieu-Seeland het egter op Ellispark gewys dat die Springbokke getem kan word en hulle het veral die tuisspan se lynstane lelik ontwrig.

“Die All Blacks het hul huiswerk teen ons gedoen, maar ons het lesse uit daardie nederlaag geleer. Een van die lesse is om altyd ’n Plan B gereed te hê. Ons het hard die afgelope week gewerk en hopelik sal ons meer veelsydige spel kan lewer as dit moet.”

Op sy beurt sien Steyn uit na die wedstryd.

“Ek het verlede jaar ’n kans gekry om teen Nieu-Seeland te speel en hierdie week het ek weer ’n geleentheid om die Springbokke te verteenwoordig. Hopelik kan ons plaasvervangersbank ’n verskil maak wanneer ons op die veld verskyn,” het die 35-jarige agterspeler gesê.

Die wedstryd begin Saterdagoggend om 07:30 Suid-Afrikaanse tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

vuurvliegie ·

Vir die laaste 20 jaar het die Bokke nie ‘n plan B nie, maar nou ewe skielik na die All Black loesing.
Nee wat die “Golden Oldies” het meer as geluk nodig teen die Aussies.
Nienaber se spankeuses gaan lelik byt. Maar as jy nie ore het nie moet jy maar voel pas mooi hier.

Snuffelgids ·

Baie goeie opskrif, skerp Johann! Mense ek wil nie krities wees nie, maar dink ons Bokke verdien beter ondersteuning as wat hulle kry. Ja, daar is foute wat gemaak word…maar ook lesse wat geleer word. Ons is immers Wêreld kampioene, het die B&I Leeus vir die eerste keer in 12 jaar n reeks laat verloor, was lank nr 1…en nogsteeds is ons meer negatief as positief. Soms sien ons dinge vir hoe ons is, en nie hoe dit is nie. Los die negatief wees

De Villiers ·

Ek hoop maar die vliegtuig is al oor teen 07:30 more oggend!

Snuffelgids ·

Champagne Breakfast…of in my geval, Brannas Breakfast lol

quartus ·

Wel, daar is nou al soveel suid-afriksaners woonagtig in Australie, dat dit vir SA spanne sal voel hulle speel tuis. As hulle dus verloor is daar absoluut geen verskoning nie. Hulle moet maar net kyk hoe die Poemas gespeel het en dieselfde taktiek gebruik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.