Bokke wil Wallabies in die ou styl aanvat

Willie le Roux teen die Poemas

Willie le Roux teen die Poemas

Die Springbokke sal die Wallabies in Perth se verwagte reën en wind op die tydbeproefde Suid-Afrikaanse manier aanpak en hoop dat hul voorspelers die mas sal opkom.

In Napier kry die Poemas kans om te wys hoe goed hulle met die All Blacks kan kompeteer.

Nuus uit die Bokke se kamp is ook dat die sewes-Bok Warren Whiteley waarskynlik sy toetsdebuut ná rustyd sal maak wanneer hy Duane Vermeulen vervang.

Whiteley was reeds saam met die Bokke in Salta en die Springbokke se afrigter Heyneke Meyer is baie opgewonde oor sy talent. Hy hanteer goed, gee goed uit, verdedig goed en is ‘n goeie skakel tussen voor- en agterspelers, het Meyer gesê. Hy het bygevoeg dat Whiteley se vaardighede as lynstaanspringer vir hom ‘n openbaring was.

Die Wallabies het die hele week probeer om ‘n ligte luim in die span te laat heers om die herinneringe aan hul yslike pak slae teen die All Blacks uit te wis. Hierteenoor was daar net erns in die Bokke se kamp.

Die Springbokke besef dat hulle baie beter as teen die Poemas moet speel en dat ‘n nederlaag in Perth so te sê ikabod sal skryf op hul kanse om die Rugbykampioenskap te wen,

“Ek dink ons spelpatroon het ten goede verander, maar ons sal altyd staat maak op dít waaroor Springbokrugby gaan,” het die Springbokkaptein Jean de Villiers gesê.

Dit beteken die Bokke glo dat fisieke oorheersing deur die voorspelers die beste opsie sal wees teen ‘n span wat gewoonlik nie saam met die grootste en sterkste honde blaf nie.

Hopelik sal daar ook geleentheid wees vir Willie le Roux om die Wallabies ‘n slag of drie te uitoorlê. Sy koms het reeds ‘n groot rol gespeel in die span se vermoë om drieë te druk.

Uit nood gebore speel die Bokke weer met twee binnesenters – Jean de Villiers en Jan Serfontein – maar daar is sprake dat hulle ook, soos in die ou dae, linker- en regtersenters gaan wees.

♦Die All Blacks weet alles van die Poemas se skrumvertonings teen die Bokke en het ook genoeg respek vir hul agterspelers se aanvalsvermoëns en goeie verdediging.

Daniel Hourcade, wat die Argentyne nou afrig, het ‘n aanvallende dimensie by die voorspelers se aggressiewe spel gevoeg.

Die All Blacks sal die spel seker gaandweg oorheers en ons sal ná die wedstryd ‘n beter idee hê van hoe ver die Poemas op internasionale vlak gevorder het. Hulle is tans maar 12de op die wêreldranglys.

Die spanne is:

Australië teen Suid-Afrika

Australië: 15 Israel Folau, 14 Adam Ashley-Cooper, 13 Tevita Kuridrani, 12 Matt Toomua, 11 Rob Horne, 10 Bernard Foley, 9 Nick Phipps, 8 Wycliff Palu, 7 Michael Hooper (k), 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 James Hanson, 1 James Slipper.
Bank: 16 Saia Fainga’a, 17 Pek Cowan, 18 Ben Alexander, 19 James Horwill, 20 Scott Higginbotham, 21 Matt Hodgson, 22 Nic White, 23 Kurtley Beale.

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Morné Steyn, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Marcell Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Bismarck du Plessis, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Lodewyk de Jager, 20 Warren Whiteley, 21 Francois Hougaard, 22 Pat Lambie, 23 Damian de Allende.

Saterdag 6 September om 12:05 in Perth.

Skeidsregter: George Clancy (Ierland)  

Nieu-Seeland teen Argentinië

Nieu-Seeland: 15 Israel Dagg, 14 Ben Smith, 13 Conrad Smith, 12 Ma’a Nonu, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (k), 6 Liam Messam, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett.
Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Ben Franks, 18 Joe Moody, 19 Jeremy Thrush, 20 Sam Cane, 21  TJ Perenara, 22 Colin Slade, 23 Malakai Fekitoa.

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Juan Martín Hernández, 11 Lucas González Amorosino, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Leonardo Senatore, 7 Juan Manuel Leguizamón, 6 Juan Martín Fernandez Lobbe, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (k), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matías Cortese, 17 Lucas Noguera Paz, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matías Alemanno, 20 Rodrigo Báez, 21 Tomás Cubelli, 22 Santiago González Iglesias, 23 Juan Imhoff.

Saterdag 6 September om 09:35 in Napier

Skeidsregter: Pascal Gauzère (Frankryk)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.