Bokke wys die All Blacks se swakplekke uit

Twee van die Bokke se grootste uitblinkers Saterdag, Pieter-Steph du Toit en Franco Mostert, laat die All Blacks se verdediging bontstaan. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke gaan die All Blacks nog baie slapelose nagte besorg voor aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan.

Ja, die kritiek sal nou op die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, neerreën nadat die All Blacks die Springbokke Saterdag op Loftus Versfeld met 32-30 geklop het.

Ja, Erasmus het dalk fouteer toe hy te veel plaasvervangers in die laaste kwartier opgestuur het toe die Bokke ʼn stewige voorsprong gehad het. En miskien het van die plaasvervangers dalk nie die nodige impak gemaak nie.

Willie le Roux was Saterdag, soos hier, rotsvas onder die All Blacks se lugskoppe. (Foto: GB Jordaan)

Maar het die All Blacks nie maar dieselfde gedoen nie?  Was dit nie deel van albei spanne se wedstrydplanne nie? Het voorslag-spelers soos Faf de Klerk, Malcolm Marx en Eben Etzebeth nie begin krampe kry toe hul stoom opgeraak het nie? En Willie le Roux kon nie sy harsingskuddingtoets slaag nie.

In Wellington (mét plaasvervangers) het die Springbokke se verdediging gehou. Saterdag op Loftus het die wal in die 78ste minuut gebars. Só maklik kon ʼn All Blacks-speler, soos Damian McKenzie in Wellington, die bal in daardie paar minute aangeslaan het om aan die Bokke ʼn oorwinning te besorg.

Kom ons neem die Rugbykampioenskap in oënskou en kyk watter span het vanjaar die meeste vordering getoon.

Die All Blacks troon (op papier) steeds bo die ander spanne uit.

Ná die reeksoorwinning van 3-0 oor Frankryk het hulle vanjaar in nege toetse 352 punte aangeteken en net 170 afgestaan. Hulle is eerste op die wêreldranglys, die soveelste keer die Rugbykampioenskap-kampioen, maar steeds is die louere tussen hulle en die Bokke gedeel: 32-34 in Wellington en 32-30 op Loftus.

Steven Kitshoff maak gereed om tussen Shannon Frizzel en Kierand Read deur te dryf met Pieter-Steph du Toit, soos feitlik elke keer, en Handre Pollard byderhand om hulp te verleen. (Foto: GB Jordaan)

Die Bokke is slegs vyfde op die wêreldranglys, hulle het vanjaar ʼn wenpersentasie van net 50% in tien toetse, het 255 punte aangeteken en 252 afgestaan en is deur Wallis, Engeland, Australië, Argentinië en Nieu-Seeland geklop.

Vanwaar dan die lofsange?

Dis omdat hulle gewys hoe om die All Blacks te klop, hoe om Ben Smith, Waisake Naholo, Beauden Barrett en Aaron Smith aan bande te lê, onder druk te plaas en hulle in foute in te dwing. Ook omdat hulle gewys het hoe die All Blacks sukkel wanneer die agterste driehoek moet omdraai, en hoe om hul voorspelers vas te vat en terug te duik.

Dink net daaraan, as Duane Vermeulen, Warren Whiteley en Lood de Jager ook nog beskikbaar is,  watter rimpelings sal dit nie in All Black-geledere maak nie?

Die Bokke is saam met die All Blacks (en Italië, Namibië en ʼn vyfde span wat nog bepaal moet word) in Groep B vir volgende jaar se WB-toernooi geloot.

Die Bokke en All Blacks se kragmeting in die groepronde sal bepalend wees, want die wenner sal ʼn amperse vrypas na die halfeindronde hê. Hy speel teen die naaswenner van Groep A (Ierland, Skotland, Japan, Rusland en Samoa).

Ja, die All Blacks trek steeds die toutjies en ja, die Bokke het nog niks gewen nie, maar hulle het die krake in die All Blacks se mondering uitgewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

49 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niklaas

Die wedstryd het weereens getoon dat ons het nie juis diepte in reserwe talent het nie. As Allblacks n man vervang is hy gewoonlik ook n kandidaat vir n wereldspan . Kyk maar na die NZ spelers soos reserwe losskakels Sopoaga , Mckenzie , Mo’unga. As ons n reserwe speler opstuur , verswak die Bokspan sommer onmiddellik. Dit is dus die hoofrede vir die Bok nederlaag gister toe ou Bongi , Notshe en Papier opgedraf het en die Allblacks dadelik bloed geruik het. F. Louw was darem ook maar vrot gewees en het min beteken. Ai, waar is Thor Vermeulen… Lees meer »

John

Nee, die All Blacks wys die Bokke se swak plekke uit. Om as dit goed gaan sommer lekker te ontspan, wysigings aan te bring en lui-lekker so te gryp-pryp na die ‘dom’ vyand se swart truitjies is nogal nie slim nie… dom-dom…

Albert

Wat die mense nie verstaan nie datdie AB in twee weke amper rondom die wereld gevlieg het deur baie tyd sones en hulle en die laaste twintig minute was hulle baas en ons was uit op ons voete. Dit is die verskil tusse ons en hulle hul bestuur hulle spelers beter om altyd wanneer dit saak maak die beste kan gee. Hul kwaliteit spelers wat op die bank is stap op en maak n verskil want die gehalte is dieselfe of nog beter. Al wat ek sien is dat ons darm verbeter het vanaf verlede jaar, ons sal net nog… Lees meer »

Anoniem

Baie praat, baie bespiegel maar wat verseker waar is, is dat die All Blacks se ‘Wittebrood’ van oorheersing in Wêreldrugby einde se kant toe staan ! Kieran Reed het vir 77 minute ‘n ‘worry’ op SY gesig gehad !En Hy was vrek verlig dat Hulle gewen het ! Hulle sê dit nie, hulle wys dit nie maar Hulle vlieg ‘worry-worry terug huistoe ! Hulle is uitgevang want ONS is besig om hulle in te haal ! Dankie Rassie en Afrigtingspan en Bokke ! Wen of Verloor TROTS op JULLE ! Sal aanhou BID ?? en bly vertrou dat die Webb… Lees meer »

Hanna

Ai tog, kla gaan ons volkie kla, wen ons word Rassie en sy spelers geprys. Verloor die bokke het almal iets te sê. Welgedaan bokke, doen so voort ons is trots op julle !!!!