Boklose uitspeelwedstryde kom reeds baie jare

 Foto dailymaverick.co.za

Foto dailymaverick.co.za

Die onbeskikbaarheid van Springbokke vir die Curriebekerreeks en ook die uitspeelrondes is lánkal nie meer nuus of nuut nie.

Daar kan met reg gesê word die Curriebekerreeks is vanjaar afgewater, maar dit geld eintlik net die verspotte opstellende ronde om vir die Premierliga te kwalifiseer.

Die Curriebeker was nog maar altyd iets spesiaals  – soos maar alte duidelik bewys is deur die ondersteuners se trane wat letterlik in 1975 in Bloemfontein gestort is toe Pierre Spies sy wonderlike wendrie gedruk het.

ʼn Kykie na die verlede wys dat daar in 2006,  ʼn blote tien jaar gelede, 46 390 toeskouers op Loftus was toe die Blou Bulle en die Westelike Provinsie die eerste keer in ʼn halfeindstryd teen mekaar gespeel het – en toe het die Blou Bulle se Springbokke Victor Matfield, Bakkies Botha, Fourie du Preez, Bryan Habana, Hilton Lobberts, Pedrie Wannenburg, Chiliboy Ralepelle en Jacques Cronjé soos vanjaar en talle Springbokke in die jare na hulle dikwels ook nie gespeel nie.

Wynand Olivier, Akona Ndungane, Danie Rossouw en Pierre Spies van die Blou Bulle wat in die Bokspan vir die 2006-jaareindtoer was, is wel toegelaat om te speel.

♦  Dieselfde naweek het die Vrystaat die Sharks in Bloemfontein in die ander halfeind voor 33 595 toeskouers geklop – en die week daarna was daar meer as 38 000 toeskouers in die Vrystaatstadion vir die Vrystaat se eindstryd teen die Blou Bulle wat na ekstra tyd 28-elk gelykop geëindig het.

Aan Vrystaatkant het Juan Smith, Os du Randt, Bevan Fortuin en CJ van der Linde ook nie gespeel nie.

♦  Interessant is dat die huidige Springbokkaptein Adriaan Strauss in die halfeind teen die WP, en ook in die eindstryd die volgende week teen die Vrystaat, die Bulle se plaasvervanger-haker was. Gary Botha, die Springbokhaker, was die Blou Bulle se kaptein.

Neil Powell, die afrigter van die Blitsbokke, het in albei wedstryde van die bank af vir die Bulle speelkans gekry.

Morné Steyn het ook in albei wedstryde van die bank af gespeel. In die halfeind het hy Wynand Olivier en in die eindstryd vir Derick Hougaard vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.