Bokrugby: Dis wéér (en wéér) dieselfde ou storie

Wanneer die base van Springbokrugby die dag se nuus gade slaan, word hulle gewoonlik met ʼn voltreffer op ʼn leë maag getref, veral wanneer die Bokke die vorige Saterdag slae gekry het.

Dis hoekom dit te verwagte was dat die oud-Springbokafrigter Jake White ook sy mond sou uitspoel nadat die Bokke teen Wallis (of Wallis se B-span soos White dit noem) met 24-22 in Cardiff verslaan is.

White, wat nou vir Toyota Verblitz in Japan afrig, draai geen doekies om nie, net soos tien jaar gelede toe hy nie weer as Bokafrigter aangstel is nie ondanks die feit dat die Bokke die Wêreldbekertoernooi gewen het.

White trap op liddorings, maar hy weet waarvan hy praat, want hy is deur dieselfde meule as John Williams, Ian McIntosh, Carel du Plessis, Nick Mallett, Rudolf Straueli, Peter de Villiers en Heyneke Meyer wat voor en ná hom ook die deur gewys is. (Kitch Christie kon weens sy siekte nie voortgaan nie, en André Markgraaff en Harry Viljoen het bedank voordat hulle hul termyne uitgedien het.)

White het in sy rubriek op alloutrugby.com geen doekies omgedraai nie, en gevra hoekom die Bokafrigter Allister Coetzee alleen die blaam vir die Bokke se powere vertoningslys moet dra, maar diegene wat hom aangestel het, skotvry daarvan afkom.

Ja, Coetzee se wenvertoningslys van 11 uit 25 toetse maak geen goeie leesstof nie, maar word die baba dalk nie (wéér) saam met die badwater uitgegooi nie?

“Daar is ʼn pleidooi dat hy die eerbare moet doen en bedank. Vir my is die eerbare om ʼn openlike oudit op almal in SA rugby te doen.”

Volgens White het Coetzee nie aansoek vir die Bokafrigterspos gedoen nie: dis aan hom gegee.

“Hy het nie ʼn voorlegging gedoen oor sy visie vir die span nie. Watter groot maatskappy sal ʼn uitvoerende hoof aanstel sonder om deur dié proses te gaan.

“Rassie Erasmus het nie aansoek gedoen om direkteur van rugby te word nie, maar hy is aangestel. Niemand sê dat hy nie goed genoeg is nie, maar die pos is nooit geadverteer nie.”

Nou ja, reg of verkeerd, SA Rugby staan voor dieselfde kruispad as in 1999 toe Mallett gepos is, ook soos in 2007 toe White nie weer aangestel is nie, asook De Villiers en Meyer.

Nou is Coetzee in die spervuur en kan ek nie sien hoe hy daaruit kan ontsnap nie.

Maar die base?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cjan ·

Ek stem saam met Jake, maar daar was nie n kwota afrigter nie, dis hoekom hulle vir Albaster gekies het. Dink nou as Stick en Ackerman aansoek sou gedoen het, en dit gaan oor kwota, wie sou SARU moes kies. Natuurlik Stick en waar was die ploeterbokke dan?

kat ·

Coetzee is uit sy diepte soos wat News 24 geskryf het – Hy was nog altyd uit sy diepte maar vir een of ander rede kom die ‘kundiges’ dit nie agter nie.
Hoe kundig is die kundiges dan – wonder ek. Hou hulle daarvan dat iemand uit sy diepte die afrigter moet wees sodat hulle nie sleg voorkom omdat hulle ook uit hulle diepte is nie.

Chris ·

Wie is tans ons keurders en wat het hul gedoen om daar te wees?

fani ·

Leer die kamstige kundiges n les , bly weg van die wedstryde af , sodoende raak hulle geld op en dan moet hulle n plan maak.Ek persoonlik kyk nie meer springbok rugby nie . Ek hou van hardloop rugby dis hoekom ek net na wedstryde kyk wat die moeite werd is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.