ʼn “Geniale” drie deur die seun van ʼn gewese Springbok het bygedra tot ʼn eersterangse skok in die heel eerste eindstryd van die Amerikaanse beroepsliga, die Senior Rugbyliga (MLR).
Die Seattle Seawolves het die oorweldigende gunsteling, die Glendale Raptors, in San Diego met 23-19 verslaan (rustyd 8-7). Laasgenoemde het albei rondomtaliestryde tussen die twee spanne oortuigend gewen.
Met die telling 19-13 in Glendale se guns het, volgens die webwerf Americas Rugby News, ʼn “oomblik van genialiteit” aangebreek toe Riekert Hattingh (agsteman) met die bal aan die loop gegaan het.
Hy het eers die bal met ʼn oorslaanaangee na sy linkervleuel gestuur, dit met perfekte tydsberekening terugontvang en 40 meter genael om in die hoek oor te duik.
Die doelskop was oor, en Seattle het nog ʼn strafdoel behaal om die laaste spyker in Glendale se doodkis te slaan.
Hattingh is die seun van die oud-Bok Drikus Hattingh, en het vir die Blou Bulle onderouderdomrugby en in die opstelronde van die Curriebeker gespeel.
Hy het in 2015 na Amerika verhuis, en daar word verwag dat hy eersdaags deur die nasionale span nader getrek kan word.
Verskeie spelers van Suid-Afrikaanse afkoms het vanjaar ʼn prominente rol in die MLR gespeel, en dit sal nie vreemd opval as meer sulke spelers in die toekoms hul heil in die Nuwe Wêreld gaan soek nie.
Naas die euro en die jen kan die dollar verder bydra tot die leegslurp van die Suid-Afrikaanse spelerspoel.
…om nie te praat van die “push factors” nie…?